Rugby: Franse Hane slag All Blacks af

Die All Blacks doen Saterdag die haka in die Stade de France. (Foto: Anne-Christine POUJOULAT / AFP)

Die ontleedmes sal diep in Nieu-Seelandse rugby moet sny om te bepaal wat met die All Blacks op hul jaareindtoer verkeerd geloop het.

Nadat die All Blacks verlede Saterdag in Dublin deur die Iere gewurg is en met 29-20 verslaan is, is hulle Saterdag in die Stade de France in Parys voor 80 000 toeskouers met 40-25 deur Frankryk verwoes nadat die Hane rustyd reeds met 24-6 voor was.

Met 656 dae oor voordat die Hane en All Blacks in dieselfde stadion in die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi in 2023 uitdraf, wag daar kwaai kopkrap op die All Blacks, wat die tweede keer in twee jaar meer as 20 punte afgestaan het.

Dit was slegs die eerste keer in 21 jaar dat die Franse die All Blacks tuis kon klop en die eerste keer sedert 1973 dat hulle dit in Parys kon regkry.

Die All Blacks is heeltemal onkant betrap deur die vlugvoetige Franse agterspelers, wat nie geskroom het om aan te val nie. Een van hul drieë is juis gedruk toe Romain Ntamack op sy eie doellyn begin hardloop het.

Dit was pure plesier om die Hane in volle swang te sien. Wanneer Ntamack, Melvyn Jaminet, Damian Penaud en Antoine Dupont begin hardloop het, het dit ʼn mens aan die dae van Jo Maso, Philippe Sella, Serge Blanco, Emile Ntamack en Jean-Claude Sadourny laat terugdink.

Dan het die Franse voorspelers nie ʼn duim teruggestaan nie en waar die Hane in die verlede ʼn gebrek aan dissipline en selfvertroue getoon het, was dit die Kiwi’s wat die meeste strafskoppe afgestaan het en het dit in die 63ste minuut tot Ardie Savea se geelkaart gelei.

Die Franse haker Peato Mauvaka en die slot Cameron Woki was veral uitstekend. Dan het die losvoorspelers uitgetroon terwyl die oud-Blou Bul-slot Paul Willemse en die vaskopstut Uini Antonio die vuur gestook het.

Daar sal baie vrae in Nieu-Seeland gevra word, beginnende by die hoofafrigter, Ian Foster, en die voorspelerafrigter, John Plumtree.

Waar die All Blacks jare lank die maatstaf was en die toon aangegee het, is hul leemtes op die toer oopgevlek.

ʼn Paar maande gelede teen die Springbokke is hul onvermoë teen lugskoppe ontbloot en Saterdagaand het dit gelyk asof die jare te veel by Sam Whitelock, Brodie Retallick en Sam Cane aangestap het.

Die groot vraag is of Foster, wie se kontrak slegs ʼn paar maande gelede tot ná die WB-toernooi verleng is, die regte man in die saal is.

Is sy spankeuses en spelpatrone genoeg om die ondersteuners en teenstanders te paai, of sal daar skoongemaak word.

En Foster se kommentaar? “Dit was twee moeilike weke… maar ons maak vordering!”

Punte: Frankryk 40 (24) Drieë: Peato Mauvaka (2), Romain Ntamack, Damian Penaud. Doelskoppe: Jaminet (4). Strafdoele: Jaminet (4).

Nieu-Seeland 25 (6): Drieë: Jordi Barrett, Rieko Ioane, Ardie Savea. Doelskoppe: Barrett (2). Strafdoele: Barrett (2).

** Dit was ‘n grou dag vir rugby in die Suidelike Halfrond, want afgesien van die All Blacks se loesing, is die Springbokke met 27-26 deur Engeland geklop, Wallis het Australië met 29-28 verslaan en die Skotte het Japan met 29-20 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

NZ het beslis gesak maar hulle het steeds net 3 wedstryde die hele seisoen verloor. Ons het 5 wedstryde verloor.

Harry ·

Ek sou baie graag wou sien wat SA teen die Franse en Iere sou doen?

AW ·

Ek het geen probleem wanneer die”under dog” met tye WEN,!!

Maak Rugby net soveel meer Opwindend !!

Vonkprop ·

Mooi Hane, dit was ‘n puik wedstryd om te kyk. Baie goeie rugby gewees.

cccp ·

En Foster se kommentaar? “Dit was twee moeilike weke… maar ons maak vordering!” — Is hierdie Foster kêrel nie miskien Allister Coetzee in vermomming nie?

Frans ·

NZ se pak voorspelers het moeg en afgemat gelyk en om sommige van hul spelers nie langer die mas opkom nie domineer hul l voorlangs nie langer nie en sukkel hul agterlyn om aan die gang te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.