Rugby groet geskiedkundige Olënpark

Die Luiperdsrugbyunie (LRU) het besluit om ná 98 jaar van die geskiedkundige Potchefstroomse stadion Olënpark afskeid te neem.

Die veld het sedert die stigting in 1920 van sy voorganger, Wes-Transvaal, as die bond se hoofkwartier gedien.

Andries de Kock, die uitvoerende hoof van die LRU, sê in ʼn verklaring wat Woensdag in Potchefstroom uitgereik is, die Luiperds sal voortaan van hul tuiswedstryde elders in die streek speel.

Daar word tans onderhandel om die bond se hoofkwartier na die Fanie du Toit-stadion op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) te verskuif, sê hy.

De Kock sê Olënpark kan nie langer die wetlik vereiste veiligheidsertifikaat bekom nie.

“Broodnodige onderhoud moet aan die paviljoene gedoen word, en daar is nie geld voor beskikbaar nie. Geen geld is die afgelope twee jaar van die plaaslike stadsraad ontvang nie, en die partye onderhandel tans hieroor.”

Die Luiperds speel hul eerste twee tuiswedstryde vanjaar teen die Griffons op Schweizer-Reneke en teen Griekwas in Rustenburg. Dan verskuif die aksie na die Fanie du Toit-stadion.

Die kantoor sal voorlopig op Olënpark bly.

♦ Die veld, wat net een sinkgeboutjieas gemeenskaplike kleedkamer gehad het, het aanvanklik van wes na oos gelê. Dit is eers in 1938 noord-suid geswaai, en gras is die eerste keer aangeplant.

Voor die besoek van die All Blacks in 1949, is die Koos Pretorius-paviljoen met 1 800 sitplekke opgerig, en die kleedkamers opgeknap.

In 1958, met die besoek van die Britse Barbarians, is die sitplekruimte na 9 500 verhoog. Spreiligte is in 1967 aangebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christo ·

Net nog ‘n manier om wit kapitaal in die getransformeerde universiteit se koffers te kry.

MR B ·

Hartseer dag! Elke Saterdag op Olienpark Bulletjie Rugby gespeel, en voorreg gehad om die groot Gimmies-Volkies derby daar te kon speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.