Rugby het baie aan dié Amerikaner te danke

babe slaterDie naam Colby E “Babe” Slater lui dalk nie `n klokkie by die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners nie, maar hy het baie diep spore in rugby getrap.

Slater, asook die ander lede van die Amerikaanse rugbyspanne wat op die Olimpiese Spele in 1920 in Antwerpen en in 1924 in Parys die goue medaljes in rugby verower het, is in 2012 vereer toe hulle in die Internasionale Rugbyraad (nou Wêreldrugby)  se Heldesaal opgeneem is.

`n Hele paar Suid-Afrikaners, soos dr Danie Craven, Barrie Heatley, Bennie Osler, Frik du Preez, Hennie Muller, Morné du Plessis, Naas Botha, Danie Gerber, Joost van der Westhuizen,  Francois Pienaar, Kitch Christie, John Smit en Jake White het ook al dié eer te beurt geval.

Slater was in die span wat Frankryk (daar was net twee rugbyspanne op 1920 se Spele) 8-0 in die eindstryd om die goue medalje geklop het. Hy was in 1924 kaptein van die Amerikaanse span – dit was die studentespan van UCD (die Universiteit van Kalifornië, Davis) wat Roemenië 37-0 getroef en toe weer die goue medalje verower het deur Frankryk met 17-3 in die eindstryd te klop.

Slater se skoonseun, Dick McCapes (asook sy laaste eggenote, Marilyn Slater McCapes) het nou Slater se twee goue medaljes, foto’s, plakkate en koerantberigte van die twee Spele, asook sy wedevaringe (hy het noukeurig dagboek daaroor gehou) as mediese ordonnans in die Eerste Wêreldoorlog, en korrespondensie aan die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) om rugby as spelespoort toe te laat, aan die UCD se biblioteek in Sacramento geleen om uitgestal te word.

Slater het, volgens die dailydemocrat.com-webtuiste, vir die Berkeley Titans en San Francisco se Olimpiese klub rugby gespeel. Hy is reeds in 1919 geoormerk vir die Spele-span in 1920 en is in 1924 deur sy spanmaats as kaptein aangewys van die Amerikaanse span wat weer die goue medalje gewen het.

Wanneer die wêreld se voorste sewesspanne oor minder as twee weke in Rio de Jainero aantree om die eerste keer sedert 1924 weer rugby op `n Spele te speel, kan hulle gerus hulde bring aan Slater, een van die groot baanbrekers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.