Rugby het voorheen ook deur diep waters gegaan

rugby

Argieffoto.

Jare gelede, toe Bennie Nortjé nog skrumskakel vir die Leeus gespeel het en saam met ʼn hele paar ander spelers in die huis van die destydse uitvoerende hoof, Johan Prinsloo, gebly het, het hy sy spanmaats altyd gewaarsku: “Manne, wat gaan julle doen die dag as julle nie meer rugby kan speel nie?”

Volgens Nortjé het hy net sy kop geskud wanneer hy van ʼn klas af gekom en na sy boeke gegryp het, terwyl die res van die spelers op die sitkamerbanke gelê en rekenaarspeletjies speel het.

Nortjé was een van die gelukkige spelers wat verder gestudeer en hom bekwaam het.

Voordat rugby amptelik in 1996 ʼn beroepsport geword het, was die meeste van die spelers heeltyds in ʼn ander beroep.

Daar was dokters, dominees, tandartse, soldate, boere, sakemanne, prokureurs, aktuarisse, bewaarders en onderwysers. Daar is destyds ook vas geglo dat ʼn Springbokspan minstens een polisieman moes insluit. Dink maar terug aan Mof Myburgh, Piet Uys, Willem Stapelberg en Polla Fourie.

Die huidige Covid-19-pandemie maai en saai onder almal van ons, maar dit is nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse rugby deur baie diep waters gaan nie.

Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1919 was die eerste toer na en van Suid-Afrika in 1921 toe die reeks van drie toetse tussen die Bokke en All Blacks met 1-elk in Nieu-Seeland gedeel is. Tussen 1919 en 1938 (kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog waarin daar volgens die getuigskrifte 75 miljoen mense gesterf het, wat 11 900 Suid-Afrikaners ingesluit het) was daar net 28 toetse in 17 jaar.

Ná die Tweede Wêreldoorlog in 1945 het die Bokke eers weer in 1949 toetsrugby gespeel, toe die All Blacks tuis met 4-0 geklop is.

Nou heers daar weer groot kommer, want die geldkrane droog op, reekse word af- en uitgestel en allerhande planne word gemaak om rugby van ondergang te red.

Rugby (asook enige sport) gaan nooit weer dieselfde wees nie en dis dalk ʼn nodige wekroep wat ons almal nodig het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Niklaas

Daar is soveel menigtes wat gek is oor rugby , dus sal die sport beslis herstel na ‘n lang onaktiewe periode. Laat ons hoop dit herstel tot soos dit voorheen was.