Rugby: Hou die asem op oor Sale Sharks se Bokke

Faf de Klerk tydens ‘n vorige wedstryd teen La Rochelle in die Engelse Premierliga. (Foto: Xavier Leoty/AFP)

Dit sou niemand verbaas het as daar Saterdag ʼn hele paar swetswoorde gehoor is in die hotel waar die Springbokke in Bloemfontein tuisgaan en voorberei vir die Britse en Ierse Leeus se komende toer nie.

Met slegs ʼn paar Bokke wat hulle reeds vanuit Japan aangemeld het asook Frans Steyn en Rosko Specman van die Cheetahs, sou hulle en die afrigters na alle waarskynlikheid voor die televisie deurgebring het om te kyk hoe vyf van hul spanmaats van die Sale Sharks in hul laaste groepronde-wedstryd in die Engelse Premierliga teen die Exeter Chiefs vaar.

Die Chiefs het met 20-19 gewen om komende Saterdag tuis weer teen die Sale Sharks in die halfeindronde te speel.

Saterdag is daar geen wang gedraai nie. Die haker Akker van der Merwe is juis vroeg in dié fisieke kragmeting beseer en kon nie voortspeel nie.

Die Bok-skrumskakel Faf de Klerk is byna droomland toe gestuur nadat een van die Chiefs hom met sy skouer teen die kop getref het.

Boonop het die Du Preez-tweeling, Daniel en Jean-Luc, soos gewoonlik niks teruggehou nie by die losskrums ingedons.

ʼn Mens het elke keer geys wanneer iemand beseer is.

Ai, wat nog van komende Saterdag en dan ook ʼn moontlike eindstryd.

In die ander halfeindstryd kom die Bristol Bears teen Harlequins te staan nadat Bristol se kragmeting met London Irish weens Covid-19 nie kon plaasvind nie.

Harlequins het goed afgerond deur die Newcaste Falcons met 54-26 te klop.

* In die Reënboogbeker-reeks het Munster Vrydagaand in Parma die krane oopgedraai deur Zebre met 54-11 af te ransel. Munster het sodoende die agterdeur oopgehou om in die Noord-Suid-eindstryd teen die Bulls in Benetton te speel.

Maar dié eer kom Benetton toe nadat hulle punte gekry het omdat die Ospreys weens Covid-19 nie kon speel nie.

Dit laat ʼn mens kopskud hoe Benetton bo kon eindig, hoewel hulle die Glasgow Warriors, Connacht en Zebre (twee keer) geklop om deur te dring.

Die Bulls, wat die Sharks in Durban met 34-22 geklop het, vertrek Maandagaand na Italië en pak die tog sonder hul vier Springbokke Morné Steyn, Trevor Nyakane, Marco van Staden en Duane Vermeulen (beseer) aan.

Geoordeel aan die spanne se vertonings vanjaar, kan daar net een wenner wees, maar die vlug na Italië, die onbekende toestande in Trevisio en die Bulls se eerste wedstryd teen ʼn Pro14-span (die helfte van Italië se nasionale span) oorsee, kan sake deurmekaar krap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Witwolf ·

SA spelers baie beter af deur oorsee te speel aangesien politieke inmenging in sport te diep ingewortel is in die ANC!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.