Rugby: Iere en Skotte loop voor in Kampioenskap

Argieffoto van Leinster (Foto: Twitter)

Leinster (29 punte) is die voorloper op die Verenigde Rugbykampioenskap se punteleer na die sewende ronde van die toernooi. Die Ierse span het volpunte gekry in sy oorwinning van 47-19 oor Connacht.

Die Skotse span Edinburgh (28 punte) is nou in die tweede plek nadat hulle ook volpunte in hulle 24-10 oorwinning oor Benetton gekry het. Ulster (25 punte) kon nie voortbou op sy oorwinning oor Leinster verlede naweek nie en het met 13-19 teen Ospreys verloor. Ospreys (21) is nou in die vierde plek. Die sterk span van Munster (19 punte) is nou in die sesde plek, maar het twee wedstryde minder gespeel nadat sy Suid-Afrikaanse wedstryde uitgestel is weens die drama rondom die Omikron-variant van die koronavirus.

Die Lions (11 punte) is die hoogste Suid-Afrikaanse span op die punteleer ná die klinkende oorwinning in die Kaapstad-stadion oor ʼn sukkelende Stormers-span. Die Sharks (nege punte) is in die 12de plek gevolg deur die Stormers (sewe punte) in die 14de plek en die Bulls (vyf punte) in die 15de plek uit die 16 spanne. Die Suid-Afrikaanse spanne het nog net vyf wedstryde in die toernooi gespeel.

Die Europese spanne speel oor Kersnaweek hulle wedstryde in agtste ronde van die kampioenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.