Rugby: Jong Bokkies slag Engelse af, kry slae teen Hane

JF van Heerden van Suid-Afrika in aksie. (Foto via SA Rugby)

Daar was soet en suur vir die twee Suid-Afrikaanse o. 18-spanne op die eerste dag van die internasionale o. 18-rugbytoernooi wat teen Engeland en Frankryk in die Paarl beslis word.

Suid-Afrika se o. 18-span het by die Paarl Gimnasium sy kragmeting teen Engeland 40 – 24 gewen nadat hy rustyd reeds met 23 – 10 voor was.

In die vroeë wedstryd is SA se o. 18A-span met 26 – 23 deur Frankryk getroef nadat die rustydtelling 12 – 9 in die jong Hane se guns was.

Die reeks is die volgende bousteen in die ontwikkeling van jong Suid-Afrikaanse spelers (elite‑spelersontwikkeling) se loopbane nadat die eerste sooi by die nasionale Cravenweek gespit is en die meeste van hulle regmerkies by die skolekeurders gekry het.

Daar is ook ’n paar o. 18-spelers by die 52 spelers ingesluit wat verlede jaar deur Georgië sou toer, maar die toer het weens Covid-19 in die slag gebly.

Die koue, nat en winderige toestande in die Paarl het hoë eise aan die vaardighede en aanpasbaarheid van die jongelinge gespeel.

Die patroon wat geweef is, is baie na aan die nasionale bloudruk van Rassie Erasmus en Jacques Nienaber.

Voorspeler-oorheersing wat op byna onkeerbare rolmale uitloop en twee losskakels, Stehan Heymans van Affies, wat 18 punte vir die o. 18-span, en Liam Koen (Paarl Gimnasium), wat 13 punte vir die o. 18A’s aangeteken het.

Albei is spelers wat die bal ver kan sool en baie goed pale toe korrel.

In die hoofwedstryd teen Engeland was die jong Bokkies ná rustyd reeds met 33 – 10 voor, maar die Engelse jonges het nooit gaan lê nie en twee drieë voor die einde gedruk terwyl die SA o. 18-span se plaasvervangerslot, Jack Waterhouse, die telling kort voor die einde tot 40 – 17 gerek het.

Punte: Suid-Afrika 40 (23): Drieë: Ethan Bester, Caleb Abrahams, Luca Bakkes, Jack Waterhouse. Doelskoppe: Stehan Heymans (3), Thurlon Williams (1). Strafdoele: Heymans (4).

Engeland 24 (10): Drieë: Jack Bennett, Loic Keasey (2). Doelskoppe: Rory Taylor (2), Raff Weston (1). Strafdoel: Rory Taylor (1).

* In die vroeë wedstryd het Frankryk, wat as die beste jong Sesnasies-span beskou word, baie diep gedelf nadat hulle met 0 – 9 agter was en die Bokkies se voorspelers oorheers het.

Liam Koen, wie se pa die oud-Springbok‑losskakel Louis Koen is en wie se bynaam Louis Skoen was, trap beslis in pa se voetspore met sy skopwerk.

Maar slordige spel en soms swakkerige verdediging het die tuisspan duur te staan gekom.

Een van die interessantste vertonings was dié van die 17-jarige Franse vleuel Johan Wasserman.

Wasserman is die seun van die oud‑Bulle-flank Johan Wasserman (Wassie), wat 31 keer vir die Blou Bulle en 6 Superwedstryde vir die Bulls tussen 2001 en 2007 gespeel het en een van die ongelukkiges was om nooit Springbok te word nie.

Johan Wasserman (jr.) is in Pretoria gebore, maar hy het in Frankryk grootgeword en het dubbele nasionaliteit. Dalk is sy paadjie oopgekap om eendag vir die Franse teen die Bokke te speel.

Punte: Frankryk 26 (12): Drieë: Jon Echegaray, Baptiste Narmand, Thibaut Motassi Dibongue, Xan Mousqous. Doelskoppe: Yannis Brillant (2). Oliver Cowie (1).

SA o. 18A 23 (9): Drieë: Juan Smal, Divan Fuller. Doelskoppe: Liam Koen (2). Strafdoele: Koen (3).

* Dinsdag (13:00) speel die SA o. 18A-span teen Engeland en SA se o. 18’s kom teen Frankryk (15:30) te staan.

Die reeks word volgende Saterdag afgesluit met kragmetings tussen SA se o. 18A teen Frankryk (13:00) en SA o. 18 teen Engeland (15:30).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.