Rugby kry ’n ‘globale kalender’

worldrugby-sevens-logo-groot’n Nuwe “globale kalender”, wat onder meer ’n korter seisoen vir spelers verseker, is Donderdag deur Wêreldrugby bekend gemaak.

Die kalender wil verder verseker dat die tye wat rugby in die Noordelike en Suidelike Halfrond gespeel word, met mekaar ooreenstem.

Belangrike veranderinge sluit in:

  • Die Junie-toetse sal na Julie verskuif word, wat dit moontlik sal maak om die Superreeks eers af te handel, voordat dié drie toetse beslis word. Tans is daar ’n drieweek-onderbreking van die Superreeks vir die drie toetse.
  • Die toetse wat tradisioneel in November en selfs die eerste week van Desember beslis word, sal in die eerste drie weke van November afgehandel word.
  • Die Rugbywêreldbeker sal altyd in die tweede week van September afskop.
  • Opkomende rugbynasies soos Georgië en Roemenië sal ook gedurende Juliemaand die geleentheid kry om teen spanne wat aan die Sesnasiesreeks deelneem te speel.
  • In Georgië word daar lankal gebrom omdat Italië se plek in die Sesnasiereeks verskans is, terwyl Georgia hoër op die wêreldranglys is. Die nuwe regulasie sal spanne soos Georgia meer blootstelling teen die rugbymoonthede gee.
  • Lande soos Frankryk en Engeland sal toere na die Pasifiese eilande onderneem.

Die korter seisoen sal verseker dat spelers meer ruskans het. Net sowat 20 jaar gelede was dit nie ongehoord dat daar spelers was wat rugby en krieket op hoë, selfs internasionale vlak, gespeel het nie.

Die skrumskakel Dan van Zyl, het die Springbokke in 2000 in ’n toets verteenwoordig en eersterangse krieket vir die destydse Noord-Transvaal en Boland gespeel.

In onlangse jare het die rugbyseisoen net langer en langer geraak, iets wat dikwels veroorsaak dat spelers se liggame nie voldoende tyd kry om van die stampe en stote te herstel nie.

Hoewel die nuwe regulasie nie beteken dat rugbyspelers binnekort, soos Van Zyl destyds, hulle krieketkolwe in die somermaande sal kan uithaal nie, sal die nuwe regulasie die spelers se welstand vooropstel.

Die veranderinge sal vanaf 2019 op die Superreeks van krag wees, maar omdat daar nie toetse in Junie, wat nou Julie word, in die jaar wat die Wêreldbeker gespeel word beslis word nie, sal dié eers van 2020 van krag wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.