Rugby: Leinster bo-aan VRK-punteleer

Ierland se Jack Carty (Oktober 2019) (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Die Ierse span Leinster is een punt voor die Skotse span Glasgow Warriors op die punteleer van die Verenigde Rugby-kampioenskap. Leinster het Ospreys gister 29-7 geklop op ʼn baie nat veld en ʼn bonuspunt ingepalm.

Jordan Larmour, Cian Healy, James Lowe en Scott Penny het drieë vir Leinster gedruk. Ospreys se kaptein Rhys Webb kon sy span se enigste drie druk.

Glasgow Warriors het ook gesukkel in die reën en kon 13-3 teen Italië se Benetton wen. Die Skotte is nou in die tweede plek op die punteleer, maar waarskynlik nie vir lank nie want hulle het een meer wedstryd as die ander spanne in die top-vier gespeel.

Heelagter Ollie Smith en agsteman Jack Dempsey het drieë vir die Warriors gedruk.

Connacht het ʼn geskiedkundige oorwinning behaal toe hulle die Scarlets gisteraand 29-23 geklop het. Dit was die Iere se eerste oorwinning op die Walliesers se tuisveld in 12 probeerslae.

Sam Arnold, Leva Fifita and John Porch het die besoekers se drieë gedruk en Jack Carty het vier strafskoppe oorgeklits en een drie verdoel.

Die Scarlets was met 15 minute oor 13-29 agter, maar Fifita het ʼn geel kaart gekry en boonop is ʼn strafdrie aan Scarlets toegeken. Dit het aan hulle bietjie hoop gegee met die telling op 20-29.

Terwyl Fifita van die veld was, het Scarlets talle kanse verbrou om munt te slaan. ʼn Minuut nadat Fifita terug was op die veld, het hy Ioan Nicholas laat geloop en nog ʼn geel kaart gekry wat beteken het dit word ʼn rooi kaart en hy is kleedkamer toe gestuur.

Rhys Patchell het die strafskop oorgeskop om die eindtelling 23-29 te maak.

Vandag 16:00 Suid-Afrikaanse tyd speel Ulster teen die Dragons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.