Rugby is net anders (as sokker)

Tiny Naudé stel dir bal vir dáái skop (Foto: springbokrugby.webs.com)

Tiny Naudé stel dir bal vir dáái skop (Foto: springbokrugby.webs.com)

As daar een sport is wat bekend is vir sy broederskap onder spelers, is dit rugby – maak nie saak hoe rof dit soms gaan nie.

“Sokker is `n spel vir gentlemen wat deur boewe (hooligans) gespeel word, rugby is `n spel vir boewe wat deur gentlemen gespeel word.”

Hierdie stelling, weliswaar `n veralgemening wat nie op alle spelers van die twee sporte betrekking het nie, is volgens oorlewering om en by in 1890 deur die kanselier van die Cambridge universiteit gemaak. (Die volledige aanhaling lui glo: “. . . en rugby league is `n spel vir boewe wat deur boewe gespeel word”.)

Sokker, die spel van die massas, is berug vir omkopery, straatbakleiery, ongure voorvalle en hoogsbetaalde, arrogante spelers wat op en van die veld met hul gedrag skok. En dis ook nie net spelers nie . . . (Oukei, daar is deesdae ook heelparty Wallabies wat dit doen!)

Een van sokker se heel grootste skandale – en daar was `n yslike klomp – was 2009 se groot ondersoek na pogings om uitslae in Europese ligas te kook. Altesame 200 individue en 168 wedstryde was betrokke.

Die geweld wat veral Engelse “ondersteunersgroepe” op toere van die nasionale span pleeg, is ook oorbekend – spelers wat in groot groepe saamtoer en chaos en geweld stook waar hul span ook al toer. Dit het so erg geword dat die hulp van Interpol gereeld ingeroep word om sulke mense uit toergroepe te hou.

Ons het ook ons kwota rowwe rugymanne gehad: Ivor Dorrington in die 1950’s en Adri Geldenhuys ná hom – spelers wie se spel in die nuwe beroepsera tot outomatiese skorsing en selfs hofsake sou gelei het.

Dorrington is ook uit 1956 se toer in Nieu-Seeland weggelaat uit vrees vir allerlei reperkussies. Ironies genoeg het die All Blacks `n uitgetrede oud-swaargewigbokser, die voorryman Kevin Skinner, met net een doel voor oë vir hierdie reeks herroep.  Die foto van die Springbokstut Jaap Bekker se bebloede en geswelde gesig ná `n toets is een van die heel bekendstes in die annale van Springbokrugby.

Vuil en berugte spanne was daar ook, soos 1974 se Britse Leeus, wat `n spoor van verwoesting in elke hotel en kroeg agtergelaat het en berug is vir hul 99-teken wat geroep is wanneer `n Springbok `n bietjie rof geraak het. Op dié roep het elke lid van die Leeus se span begin vuiste inlê teen die naaste Springbok.

Rugby het `n broederskap

Maar wat rugby so heel anders maak, is die broederskap onder spelers – ook oor nasionale grense heen. Die Britse Leeu van 1974  Gordon Brown het die glasoog-Springbokslot Johan de Bruyn beskryf as die lelikste mens wat hy ken en hulle het mekaar op die veld gekarnuffel. In die derde en vuilste toets van die reeks het Brown De Bruyn bygekom, sy glasoog het uitgeval en almal het daarna help soek.

Jare later – in 2001 toe Brown aan kanker oorlede is – was De Bruyn een van 1 400 gaste wat `n gedenkdiens tot Brown se eer in Brittanje bygewoon het. `n Spesiaal ontwerpte trofee met die glasoog is aan Brown se weduwee geskenk.

Op dieselfde toer in 1974 het Brown, `n Skot, `n lewenslange vriendskap met die Walliese haker Bobby Windsor gesluit. “Ek het hom die laaste agt maande van sy lewe naweke gebel en vir hom gesê ek het hom lief. En dis iets wat ek nooit vir enige man gesê het nie,” het hy in `n onderhoud aan The Observer gesê.

Hulp, ook vanuit die spelersgemeenskap, gaan ná al die jare nog vir die fonds vir Chris Burger, wat in n wedstryd dood is, en ander rugbyspelers wat onlangs ernstig beseer is. Spelers soos Mannetjies Roux is al deur sy oudspanmaats uit `n verknorsing gehelp en die steun aan Joost van der Westhuizen en Tinus Linee, wat onlangs oorlede is,  is welbekend.

Toetsplek vir `n spanmaat

Jannie Engelbrecht en Gertjie Brynard is die twee hoofkarakters in een van die heel mooiste en onbekendste rugbystories in die Springbok-annale. Dit was in 1968 in die reeks teen die Britse Leeus en die toets is op Nuweland gespeel. Dit sou Brynard se bejaarde vader se eerste en laaste kans wees om sy seun in Groen-en-Goud te sien speel, maar Gertjie was net op die kortlys vir geval iemand voor die toets beseer word.

Die hele span se spelers was fiks en gesond, maar Engelbrecht het die Vrydag skielik `n kamstige skeet ontwikkel. Hy het hom aan die toets onttrek, wat aan Brynard sr. die kans gegee het om sy seun voor sy dood in aksie te sien. Boonop het die Bokke ook nog 11-6 gewen!

Daar is ook die broederskapstorie rondom die groot Springbokslot Tiny Naudé – held van 1965 se derde toets in Nieu-Seeland. Hy het ernstig aan Alzheimersiekte gely en was sonder `n mediese fonds. Op die saamtrek wat deur die oud-Springbok HO de Villiers gereël is, het `n groot groep Springbokke van hul kosbaarste aandenkings op `n ope veiling verkoop en duisende rande vir Tiny se versorging ingesamel.

Die einste Brynard het die bal wat Tiny in daardie toets vir `n sege van 19-16 uit die modder uit oorgeskop het en deur die spanlede onderteken is, al die jare gehou en die aand daarvan afstand gedoen.

Onlangs nog wou twee groot sokkerafrigters – Arsène Wenger (Arsenal) en José Mourinho (Chelsea) mekaar te lyf gaan. Sokkerbreiers is ook nie daarvoor bekend dat hulle mekaar `n stukkie son gun nie, maar wanneer die All Black-breier Steve Hansen in Suid-Afrika is, braai hy en Heyneke Meyer saam vleis en hulle kuier ook in Nieu-Seeland saam.

Hierdie twee spanne “haat” mekaar, maar skud agterna hand en drink `n paar biere. En ná die jongste toets in Wellington is spesiale geskenkies aan Bryan Habana en Jean de Villiers uitgedeel ter erkenning van hul 100ste toetse.

Dis lekker om hiervan te weet. As daar dalk ook sulke dinge in sokker gebeur, word dit in die doofpot gehou.

Bronne: Privaatgesprek met die oudsportskrywer Lappe Laubscher;  Springbok Sage; Rec.sport.rugby union; The Guardian, The Oberserver; rte. sport.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.