Rugby op Vrydagaande is hier om te bly

vrydagDie dae van Sesnasiestoetse net op Saterdae is verby.

Só se Gareth Davies, die voorsitter van die Walliese Rugbyunie (in die jaar 2016) oor die feit dat Wallis Vrydagaand teen Frankryk speel.

Dit sal die sesde keer wees dat die Rooi Drake ‘n Sesnasiestoets op `n Vrydagaand speel, vyf daarvan was juis teen Frankryk. Die eerste keer was in 2009 en dit was nog nooit werklik gewild nie (al sal daar 74 000 toeskouers by die wedstryd wees). Die toeskouers, wat meestal van openbare vervoer gebruik maak, sukkel om betyds by die Millennium-stadion uit te kom (dit heet nou die Principality-stadion en volgende jaar seker weer iets anders). Ná die wedstryd borrel Cardiff oor, die lyk of die hele Wallis op die middestad se drie of vier strate  toegesak het, en daar word tot baie laat gekuier voordat die laaste trein of bus vertrek.

Davies, net soos in sy speeldae (hy het 380 wedstryde vir Cardiff – op Saterdae – gespeel, 21 keer vir Wallis en was in 1980 saam met die Britse Leeus in Suid-Afrika voordat hy in die tweede toets in Bloemfontein beseer is), trap maar baie fyn met sy kritiek, want hy is hoof van die BBC se sportafdeling in Wallis.

Dis juis die BBC wat dinge so geskeduleer het dat daar Sesnasiesrugby op Vrydagaande, Saterdagmiddae en Sondagmiddae gespeel word. Davies sê die ander vyf spanne moet ook saamspeel en op Vrydagaand speel, maar tot dusver is dit net op Wallis van toepassing.

Ek kan my nie indink dat Engeland sal skiet gee nie, want dit neem jou ure lank om op ‘`n Saterdag by Twickenham uit te kom.

Dit laat my terugdink aan jare gelede, toe daar rugby net op Saterdae in Suid-Afrika gespeel is. Op Vrydagaand het ons TV-progmamme soos Shane, Biltong en Potroast, Little House on the Prairie en Knight Rider gekyk.

Vroegoggend op Saterdagoggende, wanneer die velde nog yskoud-kliphard en papnat van die dou was, het die skolewedstryde begin. Die eerste span het 11:00 gespeel en vandaar het ons oorgeskuif Loftus toe – om Frik, Mannetjies en later Naas te sien klubrugby speel.

Provinsiale wedstryde het net so een of twee keer per maand tussen Mei en September plaasgevind en Saterdagaande was ons betyds tuis om Sportjoernaal op Afrikaanse radio te volg om te hoor wat in die ander bonde plaasgevind het.

In Suid-Afrika is ons al jare daaraan gewoond om op Vrydagaande Superrugby te speel. Dis `n geween en gekners van tande om betyds by wedstryde op Loftus en Ellispark uit te kom, maar dis hier om te bly.

Netso sal Davies maar vir lief daarmee moet neem – in die beroepsera en om die spelers te betaal, sal rugby op Vrydae gespeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.