Rugby: SA vroue leer lesse op toer

(Foto: Springbok Women/Twitter)

Die telbord het gewys Suid-Afrika se vroue-rugbyspan verloor 60-5 teen die Barbarians op Twickenham, maar afrigter Stanley Raubenheimer sien ʼn silwer randjie uit gister se wedstryd.

Raubenheimer het op die toer gesien hoe sy span groei in die aanloop tot volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi. Die span het toetse gespeel teen Frankryk en Wallis en ʼn vriendskaplike wedstryd teen Engeland se o.20-span.

“Daar was aspekte van gister se wedstryd waaroor ons bekommerd is. Die stadige begin het ons niks gehelp nie, veral ons onvermoë om eerste fase balbesit te verseker. Dit was teleurstellend. Dinge was ʼn bietjie gejaagd toe ons wedstryd vervroeg is nadat die mans se wedstryd afgelas is. Ons het beswaarlik tyd gehad om op te warm voor die afskop, maar dis nie ʼn verskoning dat ons nie eerste fase balbesit gewen het nie. Ons het wel in die tweede helfte beter gespeel en was meer op ons gemak.”

Raubenheimer het daarop gewys dat die Barbarians se span baie meer ervare spelers ingesluit het en beter by die speeltoestande aangepas het. Twee van hulle spelers het meer as 120 toetse agter die blad en net twee het nog nie meer as 20 toetse gespeel nie.

Die SA vroue het net twee spelers wat reeds meer as 20 toetse gespeel het.

Raubenheimer sê hy en sy afrigtingspan glo die span se groei op die toer is ʼn positiewe verwikkeling.

“Ons moes leer om te speel teen die hoë intensiteit van die Franse want ons speel volgende jaar in die Wêreldbeker teen hulle. En ons het goeie vasberadenheid gewys teen Wallis na ʼn stadige eerste helfte.”

Die spelers kry nou ʼn blaaskans en sal weer in Januarie saamtrek. “Ons moet seker maak ons behou die momentum wat op tydens hierdie toer opgebou het.”

Catha Jacobs keer nie saam met die span terug Suid-Afrika toe nie. Sy sluit aan by London Irish vir die volgende vier maande. Zintle Mpupha het verlede maand reeds by die Exeter Chiefs aangesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Ek het hulle wedstryd teen Wallis gesien. Grootste probleem is vaste fassette. Kan nie skrum nie en kan ook nie hul eie lynstane bemeester nie. Jy kan nie so rugby speel nie. Verder is die span nie te sleg nie maar steeds bitter ver agter in gehalte gemeet aan ‘n span soos Engeland wat nog onlangs vir NZ amper met 50 punte geklop het.

Casper ·

Hallo Piet,maw afrigting is nie op standaard nie want skrums en lynstaanwerk word met afrigting ingeoefen.Waar is die afrigters met tegniese kennis want dit is waaroor dit gaan,tegniek maar ek het vergeet ons bly in piesangland.Geagte Mnr.Raubenheimer,hoeveel toetse het die dames al onder jou afrigting gewen persentasie gewys.

piet ·

Van die spelers lyk ook onfiks, veral die voorry. Ons kan nie eintlik ons rugby vergelyk met Engeland en so aan nie, hulle is professioneel. Daar is egter iets om te werk aan die dames se spel, maar jy’s reg ek weet nie hoekom hulle nie top afrigters kry nie dis juis belangrik dat hulle die basiese dinge goed onder beheer kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.