Rugby se Groot Sewe drosters

keith-murdoch

Keith Murdoch (links) in 2001. (Foto: Wales Online)

Reg of verkeerd, net soos in enige ander beroep is daar rugbyspelers wat ook nie hul verpligtinge nakom of hul kontrakte eerbiedig nie.

Die Racing92-klub in Parys is steeds opgesaal met ’n baie groot kopseer nadat die veelsydige Springbokagterspeler Johan Goosen sy rug op die klub gekeer het en glo soos `n groot speld verdwyn het. Goosen is ondanks die verlenging van sy kontrak terug in Suid-Afrika, op sy plaas in die distrik Burgersdorp in die Oos-Kaap, waar hy besig om sy stoetperde op te saal en aan sy toekomsplanne te beitel.

Hoekom? Niemand weet nie.

In Nieu-Seeland oefen Marty Banks saam met die Highlanders, terwyl hy veronderstel is om vir Treviso in Italië te speel. Banks het verlede jaar `n kontrak onderteken om na Italië te verhuis, maar hy het nie opgedaag nie.

Hoekom? Niemand weet nie.

Die Nieu-Seelandse webwerf stuff.co.nz het ‘n lys van die Groot Vyf saamgestel (saam met Goosen en Banks sal dit die Groot Sewe wees), wat dieselfde paadjie geloop het.

Hulle is die Fidjiaanse vleuel Rupeni Caucaunibuca (`n predikantseun wat onder meer deur die Franse klub Agen ontslaan is toe hy nie vir `n volgende seisoen opgedaag het nie), die All Blacks Luke McAlister (wat belangstelling verloor en North Harbour in die steek gelaat het toe hy nie die All Black-span na die Wêreldbekertoernooi van 2011 gehaal het nie) en Sonny Bill Williams (hy het sy rug op rugbyliga gekeer), die Wallaby-heelagter Andrew Walker en `n gewese All Black-stut Keith Murdoch.

Walker het in 2001 die trekpas gekry nadat hy twee keer uit die Wallaby-kamp verdwyn het. Die eerste keer het hy `n toets teen die Springbokke misgeloop.

Murdoch se bisar verlede is `n tragiese verhaal, een wat jou oë wasig maak, waaroor draaiboekskrywers hoendervel kry, maar selde neergepen is.

Murdoch, wat in 1970 die Bokke in die skrums verfomfaai het, is in Desember 1972 van Cardiff af huis toe gestuur nadat hy die aand ná die toets teen die Rooi Drake (Murdoch het die All Blacks se wendrie gedruk) `n veiligheidswag, ene Peter Grant, katswink geslaan het. Die voorval het gebeur toe Murdoch vir nog biere in die hotel se kombuis gaan soek het nadat die hotel se kroeg reeds gesluit was.

Maar Murdoch het nooit in Auckland opgedaag nie en glo in Sydney `n vlug na Darwin gehaal, waar hy van die toneel af verdwyn het.

Hy het glo op oliebore en in myne gewerk, `n kluisenaarsbestaan gevoer en nooit weer rugby gespeel nie.

Hoekom? Niemand weet nie

Daar is vir langer as 40 jaar onsuksesvol na om gesoek, om sy kant van die verhaal te hoor.

Maar hy het almal ontduik, selfs toe hy in 2001 `n getuie was (sommige sê hy was die beskuldige) in die moordverhoor van `n 20-jarige inbreker van inboorlingafkoms. Hy het weer soos `n groot speld verdwyn.

Wat van sy gesin, wat van sy rugbyloopbaan, wat van sy spanmaats, sou hy dinge anders wou gehad het?

Niemand weet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

fielies ·

Die doel van die berig os om probeer verduidelik waarom saru,eens die toonbeeld sa rugby en steenpilaar vir spelers, ons nasie verraai het met opsraakwekkende keuse , van bo tot onder

Waarom..?…..niemand weet,nie.

Nico K ·

Die doel van hierdie artikel is om te wonder hoekom mense met al die talent en vermoëns om ver te vorder en beroemd te word, verkies om dit nie te doen nie. Elkeen het sy eie redes en ons sal nooit weet nie. Dalk besef hulle dat prestasie en beroemd wees en baie geld en “om iets te bereik in die lewe” nie regtig so belangrik is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.