Daar is sekere aanhalings, gesegdes en stukkies kommentaar wat altyd rugby se kroonjuwele sal bly.
Ons het grootgeword met die legendariese aanhaling van Boy Louw, “look at the scoreboard”, toe hy gevra is of sy span gelukkig was om te wen.
Hoeveel keer is dit nie al gebruik nie?
Toe ons jare gelede as tjokkers op Loftus Versfeld, of waar ook al, rugby gekyk het, kon ons nie wag dat een van die spelers die bal moes misvang nie, want die gebruiklike kommentaar was “bring vir hom ʼn sirkustent” of “gee vir hom ʼn mandjie”, en dit het ons laat kraai van die lekkerkry.
Wanneer ʼn skeidsregter ʼn fout begaan het, is hy gewoonlik toegesnou: “Ref, jy mis ʼn goeie game.”
Wanneer iemand seergekry het, is die “pynpolisie” opgestuur (die ou Suid-Afrikaanse Noodhulpliga of St. Johns-ambulansdiens) en dan het die onwelvoeglike “moenie dat hy ly nie, skiet hom” gevolg.
Aai, ai, ai.
Die oud-Springbokafrigter Peter de Villiers was in sy jare in die stuurstoel die meester van skreeusnaakse uitdrukkings.
Soos toe die Bokke in 2009 die Drienasiesreeks gewen het: “Ons is op die oomblik baie goed georganiseerd en wil nie vrugteslaai word nie.”
Wat van die dag toe hy gesê het hy wil ʼn rot (en nie ʼn haas nie) uit die hoed pluk!
Toe Schalk Burger in 2009 daarvan beskuldig is dat hy aan die Britse en Ierse Leeus se vleuel Luke Fitzgerald se oog gekrap het, was Divvie se kommentaar: “Hoekom gaan ons nie na die naaste balletwinkel toe nie, koop ʼn balletrompie (tutu) en gaan dans nie. Daar sal geen oogkrappery, geen verdediging wees nie, niks nie en ons sal dit geniet.”
Tydens die huidige Covid-19-pandemie het die Ruck-webwerf ʼn hele paar ander snaakse uitdrukkings op sy webwerf geplaas.
Soos toe die Walliese skeidsregter Nigel Owens aan ʼn swetsende Dan Carter gesê het: “Moenie nou vloek nie, jy is op televisie.”
Die oud-Springbokvaskopstut Johan le Roux was ook nie op sy mond geval nie toe hy oor sy skorsing van 18 maande gepraat het nadat hy in 1994 aan die All Blacks-kaptein Sean Fitzpatrick se oor geknibbel het. “Vir ʼn skorsing van 18 maande moes ek dit afgebyt het. Dan kon ek darem met ʼn oor teruggekeer het huis toe.”
Of toe die Engelse agtsteman Nick Easter die ondersteuners “uit die hart van my agterstewe (from the heart of my bottom)” bedank het.
Toe daar in 1995 in Engeland voor ʼn wedstryd geloot is waarin prinses Anne se seun, Peter Phillips, die kaptein was, het die skeidsregter gevra: “Ouma of stert, sir,” verwysende na “head or tails”.
Dankie, het die artikel nou baie geniet. Die dae toe rugby nog rugby was. Dankie vir Danie Gerber wat my een van die grootste WP ondersteuners gemaak het. Ook n verraaier in my familie se oë wat groot Noord Transvaal ondersteuners ????die lekker sorglose ou dae