Rugby se ongeslypte diamante

rugbypale

Argieffoto.

Wanneer ʼn afrigter ʼn diamant ontdek, kan hy sekerlik vir ʼn paar aande nie slaap nie.

Dis soos toe Naas Botha in die sewentigerjare ná sy skoolloopbaan by die Hoërskool HF Verwoerd na vore getree het en daar ʼn bruisende gevoel van opgewondenheid in die ondersteuners en brig. Buurman van Zyl, die Ligbloues se afrigter, opgewel het.

Dieselfde het gebeur toe Joost van der Westhuizen ná sy skoolloopbaan by FH Odendaal by Tukkies aangeland het.

Só ook het André Markgraaff gevoel toe hy Lourens Venter tydens ʼn sewestoernooi, as ek reg onthou in Kathu, die eerste keer in aksie gesien het.

Daar was ʼn rits ander spelers oor wie daar ook groot drome gedroom is.

Sommiges het die boonste sport bereik, ander se drome is weer deur beserings in die wiele gery.

Venter was een van daardie ongelukkiges.

Hy was in 1998 saam met die Bokke deur Brittanje en Ierland op toer, maar het nooit in ʼn toets gespeel nie, want die beseringspook het alte gereeld by hom gekuier.

Hy was blitsvinnig met ʼn ongelooflike lyfswaai, maar ai, die spiere het nie gehou nie.

Só ook was Christiaan Scholtz een van die begaafste Springboksenters, maar hy het in 1994-’95 in net vier toetse gespeel.

Scholtz kon die lyn na willekeur breek, het vaart en visie gehad, maar beserings het ook hul tol geëis.

Dit bring my by Gys van Schoor, ʼn Matie-senter van weleer oor wie dr. Danie Craven en die hele land baie opgewonde was.

Van Schoor, wie se oom Ryk van Schoor in 1949 en 1953 amok saam met Tjol Lategan in die Bokke se middelveld gemaak het, was bestem om vir die Springbokke te speel, maar weer het beserings, veral dyspierbeserings, hul tol geëis.

Maar waar Ryk van Schoor ʼn plettervatter was, was Gys van Schoor meesterlik op die aanval.

Hy het in 1976 twee keer teen die All Blacks gespeel, vir ʼn gekombineerde NWK-SWA-span wat die toerspan in Upington grys hare gegee het en ook vir die Barbarians, wat met net 31 – 32 teen die All Blacks verloor het.

Maar aangesien die Bokke net een toets in 1977, teen ʼn Wêreldvyftiental, gespeel het toe Christo Wagenaar en Dirk Froneman die senters was, was die volgende toetsreeks eers weer in 1980, toe die Britse Leeus hier getoer het.

ʼn Mens sal dus nooit weet hoe goed Van Schoor, Scholtz en Venter (asook ʼn rits ander spelers) werklik was nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae