Rugby se toring van Babel

Clyde Rathbone. Foto: Twitter.

Die Skotse rugbyafrigter Gregor Townsend het geen gras onder sy voete laat groei nie en het reeds die geelwortel om vir die Skotte speel aan die Suid-Afrikaanse vleuel Duhan van der Merwe uitgehang.

Die 24-jarige Van der Merwe speel vir Edinburg in die Pro14-reeks en is die jonger broer van die gewese Springbokhaker Akker van der Merwe wat een van die Suid-Afrikaners is wat vir London Wasps speel.

Albei het in George aan die Hoërskool Outeniqua skoolgegaan. Dié skool het reeds vyf Springbokke opgelewer.

Duhan (1,93 m en 103 kg) kan vanweë ʼn verblyfkwalifikasie van drie jaar (dit is sedertdien opgeskuif na vyf jaar) vir die Skotte in aanmerking kom.

Jare gelede was dit baie groot nuus as spelers lande verruil het.

Dink maar aan die opslae wat Tiaan Strauss gemaak het toe hy in 1995 na Australië verhuis het, asook die Junior Springbokkaptein Clyde Rathbone en Dan Vickerman wat albei ook vir die Wallabies gespeel het.

Maar nou is dit nie meer uitsonderlik nie, want in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan was daar 134 spelers wat in ander lande gebore is, wat vir hul aangenome lande uitgedraf het.

Daar het ʼn hele paar Suid-Afrikaners onder meer vir Frankryk, Italië, Ierland, Japan, Australië, Amerika, Skotland en Kanada gespeel; daar was ʼn Skot in Kanada se span, ʼn Kanadees wat vir Ierland gespeel het, ʼn Ier wat vir Fidji speel, ʼn Amerikaner wat vir Engeland speel, ʼn Fidjiaan wat vir die Wallabies speel, Nieu-Seelanders in Wallis se span en ʼn rits Kiwi’s wat vir Samoa speel.

Destyds, toe Suidwes-Afrika en Rhodesië deel van die Curriebekerreeks was, was daar ʼn hele paar van dié lande se spelers wat vir die Bokke gespeel het. Dink maar aan Des van Jaarsveldt, wat die Bokke in 1960 teen die Skotte aangevoer het, Ronnie Hill, Andy Macdonald, Ray Mordt, Ian Robertson, David Smith, Brian Mujati, Adrian Garvey en Beast Mtawarira.

Corné Krige is volgens die rekordboeke in Lusaka gebore en Bob Skinstadt in Bulawayo, maar het hul rugbyloopbane hier geslyp.

Ons praat hier ook nie van Suid-Afrikaners soos Patats Cloete, Jack van der Schyff, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven, Salty du Randt, Doug Holton en Piet Greyling nie, wat in ʼn stadium ook vir Rhodesië gespeel het.

Dink ook maar aan Sias Swart en Jan Ellis, twee van die Biltongboere se goue seuns wat vir die Bokke gespeel het.

Toe was dit die hoofopskrifte, nou is dit skaars ʼn brokkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Des van Jaarsveldt het die Bokke in 1960 teen Skotland aangevoer, nie in 1958 teen die Franse nie.

Megan Swart ·

Dagsê Johan
Jy is inderdaad korrek. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.