Rugby se wonderlike verhale en name

Cliffie Etzebeth (Foto: Facebook)

Die laaste hoofstuk oor Clifford (Cliffie) Etzebeth is Sondagmiddag geskryf toe hy sy lewe in ʼn motorongeluk verloor het, maar die boek sal nooit toegemaak word nie.

Daar is te veel staaltjies oor die Etzebeth-broers van Epping te vertel, die ooms van die Springbokkaptein Eben Etzebeth.

Die bekende skrywer Dana Snyman het ʼn paar jaar gelede ʼn lang artikel oor Cliffie Etzebeth en die “wilde” Etzebeth-broers neergepen ‒ hoe hulle hul teenstanders reggesien het, hoe hulle kroeë “skoongemaak” het, hoe hulle twee van hul pa se vliegduiwe vir sop gebruik het. Maar ook van hul sagter kant.

Ek het Cliffie wel ʼn paar keer vir die Westelike Provinsie gesien speel, op stut en slot. Hy was die sout van die aarde, hard, kliphard, die weerligafleier wat nie die ander wang gedraai het nie.

Ek wou op ʼn dag ʼn onderhoud met hom voer nadat daar in ʼn wedstryd ʼn bakleiery uitgebreek het waarin hy betrokke was. Ek wou ook met hom oor sy stoeidae gesels het, want ek het immers mos vir die Reitz-stoeiklub in Capitalpark gestoei.

Maar nadat een van sy hamme my hand byna pap gedruk en al die beentjies gekraak het, kon ek net “lekker game gehad,” uitkry en het dit toe maar vir ʼn ander dag gelos wanneer hy afgekoel het.

Daar word vertel toe Morné du Plessis in 1977 die hele Loftus Versfeld se bloed laat oorborrel het toe hy Naas Botha uit sy tokse getêkkel het, het die destydse bestuurder van die Westelike Provinsie, oom Boy Louw, glo vir Cliffie en Flip van der Merwe met die taak opgesaal om na Morné om te sien.

Dié twee het Du Plessis met ʼn kas Amstelbier in sy hotelkamer gelos met die opdrag om nie die kamer te verlaat nie, want hulle het eers gaan paartie hou. Toe hulle hul heel later weer by Du Plessis aangesluit het, was hy nog orraait en het hulle die laaste paar biere saam met hom gedrink.

Een van Clifford se broers (hulle was nege kinders) was Skattie. Hy is in 1993 doodgeskiet toe hy skuldinvordering in Belhar gedoen het.

Daar loop wonderlike stories oor Cliffie en Skattie se speeldae in die Kaap rond.

♦ Dit bring my uit oor byname in rugby. Waar anders gaan jy ʼn rugbyspeler met blomkoolore kry wat “Skattie” genoem word?

Waar anders sal jy ʼn Draadkar de Lange, Ghriespomp van der Merwe, Birdie Partridge, Mary Jackson, Boesman Wilkinson, Katmuis Conradie, Rooibal Pretorius, Dagga Engelbrecht, Piston van Wyk, Spanner Martins, Bakkies Botha en Chain Botha kry?

Wat van Fiks van der Merwe, Stompie Fourie, Popeye Strydom, Flappie Lochner, Champion Myburgh, Bingo Burger, Carrots Geraghty, Lammetjie Luyt, Skaap Forrest, Kalfie Martin, Cowboy Saunders, Pompies Williams, Spyker Jacobs, Os du Randt, Ox Nché, Jakkals Keevy, Tjol Lategan, Kwagga Smith  en Oupa van Zyl?

Net in Suid-Afrika en meestal in die soetste taal …

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Badenhorst ·

Onthou ook vir Speedy Wilson, sekerlik een van ons stadigste Springbok heelagters!

Johan ·

So baie om te noem. Wat van Tiny Neethling, Tiny Naude, Mof Myburgh,…….

Jannie ·

Hulle almal geken….maar nou is Cliffie, Skattie, Apie en Jan almal ons vooruit!!! R I V!!

Charles ·

Ek is seker Naas Botha het nie meer in 1997 rugby gespeel nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Charles

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

jannie ·

Ek het self in my dae onder andere teen hammerbal henning, stinkspoed van deventer, etterkop engelbrecht, wingnut willemse en ook Tribbes Taljaard gespeel….daai deepheat innie kleedkamers en samesyn na die game was legendary……die goeie ou dae…

Buffel ·

Wat van Broodwa Oberholzer, Bylkop van Noordwyk, Rysmier van Zyl, Bullet Dalton, Krag Kruger, Domkrag Erasmus,….nou nie almal bokke nie maar klub/provinsiale spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.