Rugby: Skotte, gelaai met drie SA spelers, klop Japan

Dylan Richardson in aksie (Foto: ANDY BUCHANAN/AFP)

Skotland se rugbyspan het die jaar afgesluit met nog ʼn Suid-Afrikaner wat sy toetsbuiging gemaak het.

Die Haaie se vuurvreter haker/flank Dylan Richardson het Saterdagmiddag op Murrayfield in Edinburg in die 71ste minuut teen Japan op die veld gedraf.

Met Duhan van der Merwe en Pierre Schoeman (hy is as plaasvervanger opgestuur) was daar drie Suid-Afrikaners op die veld toe die Skotte met die eindtelling op 29 – 20 van die veld gestap het. Boonop was Oli Kebble en Kyle Steyn saam met hul Skotse spanmaats in die pawiljoen.

Voeg dit waarde by tot Skotse rugby?

Beslis, want dit gee hulle diepte en die Suid-Afrikaanse spelers verskaf ook die vonk wat soms in die verlede ontbreek het, hoewel daar ongelukkigheid in sommige kringe is omdat Skotse spelers van toetskleure ontneem word.

Die Skotte, wat rustyd met 19 – 6 voor was, het ʼn paar benoude oomblikke teen die einde beleef en dit het op ʼn amperse geskil uitgeloop toe die Skotte in die 78ste minuut ʼn strafskop gekry het binne trefafstand.

Die losskakel Finn Russell wou kantlyn toe skop en het so aangedui terwyl die heelagter en kaptein, Stuart Hogg, pale toe aangedui het.

Russell het aanhou probeer om sy kaptein te oortuig, maar die regte besluit is geneem om die voorsprong tot nege punte te rek met speeltyd byna verstreke.

Die Japanners het nooit gaan lê nie en soos ons hulle leer ken het, was hulle woelig soos miere.

Hulle het nie geskroom om met die bal te hardloop nie en boonop het hulle hul man in die vaste fasette gestaan.

Vir Skotland was die senter Chris Harris kookwater en hy is as speler van die wedstryd aangewys.

Hogg het ook die Skotse driedrukrekord laat spat toe hy sy 25ste toetsdrie gedruk het.

Dit was ook ʼn soete weerwraaksege vir die Skotte wat in 2019 in Japan in die Wêreldbekertoernooi geklop is.

Puntemakers:

Skotland 29 (19): Drieë: Duhan van der Merwe, Stuart Hogg, Darcy Graham, Stuart McInally. Doelskoppe: Finn Russell (3). Strafdoel: Russell.

Japan 20 (6): Drie: Tevita Tatuva. Strafdoele: Rikiya Matsuda (5).

* Italië het in Parma nie oortuig nie toe hy Uruguay met 17 – 10 geklop het nadat die Azzurri rustyd met slegs 10 – 3 voor was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Suid Afrikaanse spelers wat op meriete gekies word maar nie in SA kan speel nie oor die diskriminernde manier wat die span saamgestel moet word.

JohanR ·

Sal ‘n lekker Bokke2 span kan bymekaar sit met spelers gebore in SA en wat nou vir ander lande speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.