Rugby: Stormers byt ook in die stof

Die Stormers en Munster sê mekaar die stryd aan. (Foto: Stormers/Facebook)

Vir die eerste 40 minute van die Stormers se wedstryd teen die gevaarmanne van Munster het dit gelyk of die naweek se gety van Suid-Afrikaanse nederlae in die Verenigde Rugbykampioenskap gaan draai. Naas die Springbokke was hulle vir een helfte die naweek se beste advertensie vir Suid-Afrikaanse rugby.

Die manne van Kaapstad het beïndruk met hulle spoed, hanteerwerk en die aansluiting tussen die voor- en agterspelers. Kaptein Salmaan Moerat het van voor af gelei en Evan Roos het weer uitgeblink. Die interspel tussen Manie Libbok en Warrick Gelant het ʼn glimlag op rugby-liefhebbers se gesigte geplaas en ná nege minute in die eerste helfte het Libbok die Stormers se eerste drie gaan druk.

Tien minute later het Ruan Nel deur Munster se verdediging gebreek, die bal netjies na Leolin Zas aangegee en hy het soos ʼn blits teen die kantlyn af genael om die tweede drie te gaan druk. Libbok het die drie verdoel om die Stormers met 12-0 voor te laat loop. Gelant het boonop ʼn strafskop deur die pale gejaag en die tuisskare was stil gespeel met die telling op 15-0 in die besoekers se guns.

En toe breek die damwal.

In die doodsnikke van die eerste helfte het Jack O’Donoghue oorgeval vir die Ierse span se eerste drie. Juey Carbery het die drie verdoel om die rustydtelling 15-7 te maak.

Vroeg in die tweede helfte het Moerat ʼn geel kaart gekry vir gevaarlike spel by ʼn lynstaan. Daardie tien minute met 14 spelers op die veld het die Stormers duur te staan gekom.

Eers het voormalige Stormers-slot Jean Kleyn vir die tuisspan gaan druk en daarna het haker Niall Scannell ook oorgeduik. Munster was vir die eerste keer in die wedstryd voor met die telling op 19-15.

In ʼn verrassende skuif is Libbok deur Tim Swiel vervang, maar in die tweede helfte was daar net een span op die veld.

O’Donoghue het oorgeduik vir sy tweede drie en Springbokslot RG Snyman het Munster se vyfde drie gaan druk om die gaping nog groter te maak. Tim Swiel het die Stormers se enigste punte in die tweede helfte met ʼn strafskop pale toe aangeteken.

Ben Healy het sout in die Stormers se wonde gevryf met ʼn 55 m-strafskop wat hy in die doodsnikke tussen die pale deur gejaag het. Die eindtelling was 34-18.

Dit het nog ʼn teleurstellende naweek vir die Suid-Afrikaanse spanne in die toernooi afgesluit. Hulle kon nog net een van die agt wedstryde wen.

Volgende Vrydag speel die Sharks teeen die Ospreys, die Bulls pak die Cardiff Blues, die Stormers speel teen Edinburgh en die Lions pak Glasgow Warriors.

Puntemakers:

Munster 34 (7)

Drieë: Jack O’Donoghue (2), Jean Kleyn, Nial Scannell, RG Snyman

Doelskoppe: Juey Carbery (2), Ben Healy

Strafskoppe: Healy

Stormers 18 (15)

Drieë: Sergeal Petersen, Leolin Zas

Doelskoppe: Manie Libbok

Strafskoppe: Warrick Gelant, Tim Swiel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

piet ·

Munster is ‘n sterk span. Nie ‘n slegte vertoning van die Bok-lose Stormers nie, darem nie verneder soos die Bulls nie.

Harley Davidson ·

Dit is die nagevolge van spanne wat saamgestel word om polities druk te absorbeer en die grap is soos die kwotas aangepas word gaan dit net slegter gaan maar daar word geen vereistes aan die sokker span gemaak nie en met hulle gaan dit nog slegter.

MAGRIETHA ·

Daai spanne hardloop met die bal skop nie onnidigge besit wegsoos sa spanne nie

piet ·

Stormers het goed gespeel. Beste vertoning sover van ‘n SA span op toer. Munster is ‘n sterk span.

Frans ·

IN hierdie wedstryd was die skeidsregter se beslissings mi nie konsekwent nie.Moerat is gestraf vir gevaarlike spel in die lynstaan met ‘n geelkaart maar ‘n soortgelyke oortreding van die ander span is nie gestraf nie en het die skeidsregter Moerat se beswaar in die verband van die hand gewys.

JBN ·

Baie goeie nuus. Die Anc se rassistiese kwotabeleid byt ook in die stof.

Gerhard ·

Ek is was en sal altyd n stoere Stormers ondersteuner bly. Hulle het in die eerste 20minute absoluut fantastiese opwindende rugby gespeel en na Moerat se onnodige afstuur met geel kaart val alles plat en kon hulle nie weer herstel nie. Die skydsregter was regtig nie konsekwent met van die besluite nie en alhoewel Munster n uitstekende span is, kon ons hulle gemaklik gewen het. Dit maak net my hart seer dat die politiek so groot rol speel in ons sport. Maak nie saak wat n speler se kleur is nie, as hy die beste speler is, speel hom, maar moenie spelers insit wat dalk nie andersins daar sou gewees het, as dit nie vir kwotas was nie. Ek dink ook verder Dobson het sy vervaldatum bereik…..ek glo dit is tyd vir n jong nuwe opwindende afrigter wat hom nie sal laat lei deur die politiek nie. kry vir Schalk en Jean de Villiers om die Stormenrs af te rig. Stormers BO!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.