Rugby: Stormers se volgende uitdaging

Stormers-ondersteuners (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers kan nog ʼn reuse-tree vorentoe gee in die Verenigde Rugbykampioenskap as hulle Glasgow Warriors in hulle volgende wedstryd in Kaapstad kan klop. Daar is eers ʼn week ruskans voordat die spanne mekaar op 22 April pak.

Die Skotse span is in die derde plek op die punteleer met 50 punte en die Stormers is op 47 punte. Agt dae later pak die Stormers die voorloper op die punteleer, Leinster, ook in Kaapstad. Daarna moet die Stormers Wallis toe vir ʼn wegwedstryd teen die Scarlets op 21 Mei.

Die einste Leinster speel eers op 23 April teen die Haaie in Durban. Die Stormers sal hoop die manne van KwaZulu-Natal het die Iere saggemaak voordat hulle in die Moederstad aankom.

Die Bulle speel op 23 April teen Benetton op Loftus en ʼn week later ook teen Glasgow Warriors. Die Bulle moet ook daarna Wallis toe vlieg vir ʼn wedstryd teen Ospreys op 20 Mei.

Die Haaie het ʼn taai toffie wat wag as hulle laaste groepwedstryd. Hulle moet Ulster, die span in die tweede plek op die punteleer, op 20 Mei op hulle tuisveld gaan aandurf.

Daarna volg die kwarteindstryde wat vir 3 Junie geskeduleer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.