Rugby-vreugdevure brand weer ná skepskop-drama!

Daniel Lienert-Brown van die Highlanders (13 Junie 2020) (Foto: Joe Allison /Photosport via AP)

Ja, daar was ’n paar stampe, stote en strafskoppe; maar dis te verstane: Dit is al amper drie maande sedert hulle laas in ’n wedstrydsituasie was.

Tog het die openingswedstryd van die Aotearoa-Superreeks tussen die Highlanders en die Chiefs vir oorgenoeg driedruk-aksie en vermaak gesorg. Die kersie op die koek was natuurlik die skepskopdrama in die doodsnikke van die wedstryd.

Damian McKenzie het gedink hy het die wedstryd vir die Chiefs met sy skepskop beklink, maar Bryn Gatland se woer-woer-poging sekondes later het die wedstryd vir die Highlanders met net één punt gewen.

Die eindtelling van 28 – 27 beteken dat dit slegs die tweede keer in hul laaste ses probeerslae is wat die Highlanders die Chiefs kon troef.

Die wedstryd het in ’n koue Dunedin afgeskop – die spelers se asems het vir wasem-wolke gesorg, terwyl die maskerlose toeskouers met dik baadjies die winterlug trotseer het. Maar as dapper Pretorianers vanoggend die ysige weer vir ’n koppie stomende koffie by die Boeremark aangedurf het, kan Nieu-Seelandse rugbygeesdriftiges seker ’n bietjie koue vir vuurwarm rugby-aksie verruil. Of hoe?

Snaaks genoeg het wêreldrugby se eerste drie te midde van die Covid-19-pandemie meer Bloubul-karaktertrekke as Nieu-Seelandse flair gehad.

Die Highlanders se voorspelers het die harde werk gedoen en hul kaptein, Ash Dixon, is met ’n goeie oorstootdrie beloon.

Verroeste wedstrydfiksheid kan egter nie natuurlike vaardighede onderdruk nie en kort-voor-lank het die spanne – so tussendeur al die strafskoppe – tekens van lekker aanvallende Nieu-Seelandse rugby getoon.

Beide spanne het goeie drieë gedruk en toe Marino Mikaele Tu’u net voor rustyd gaan druk het, het die Highlanders ’n voorsprong van 22 – 16 ná 40 minute se spel geniet.

Mitch Hunt en McKenzie se skopskoene het daarna vir punte gesorg, totdat die Chiefs se Anton Lienert-Brown later doodluiters oor die doellyn gedraf het.

McKenzie se doelskop was mis, maar hy het kort daarna met ’n goeie skepskop vergoed om die telling 27 – 25 in die Waikato-span se guns te swaai.

Hul voorsprong het egter nie lank geduur nie, voordat Gatland onder groot druk die lekkerste skop van sy loopbaan oor die dwarslat gejaag het.

Die Chiefs het seker na die beter span gelyk, maar die telbord wys dat hulle steeds verloor het. Al was dit net met een punt.

Môre gaan die aksie voort wanneer die Blues teen die Hurricanes speel. Die aksie skop om 05:35 af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

En so is NZ weereens die wereld voor, terwyl ons politiek speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.