Rugby: Wallis klop Aussies in omstrede stryd

Die Rooi Drake vier hul sege oor die Wallabies (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Wêreldrugby staan nou vierkant in die spervuur nadat die Australiese afrigter, Dave Rennie, Saterdagaand in Cardiff sy mond behoorlik uitgespoel het oor die wedstrydbeamptes in die toetswedstryd tussen die Wallabies en Wallis.

Die Rooi Drake het met 29-28 gewen, maar dit het Rennie briesend gelaat nadat die Wallaby-agtsteman, Rob Valetini, ʼn rooikaart (gevaarlike duikslag met ʼn arm wat die teenstander teen die kop getref het) en Kurtley Beale ʼn geel kaart (bal weggeklap om ʼn drie te probeer keer) gekry het.

Wat gaan Wêreldrugby nou doen, veral nadat hy Rassie Erasmus verlede week vir 20 maande geskors het nadat hy sy mond uitgespoel het oor die Aussie-skeidsregter Nic Berry se kleitrappery in die eerste toets tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus?

Boonop is Rennie, wie se span die eerste keer in 45 jaar nie ʼn wedstryd op sy jaareindtoer kon wen nie, een van die kandidate om as afrigter van die jaar aangewys te word.

Rennie het veral die skeidsregter, Mike Adamson, en die televisieskeidsregter, Marius Jonker, in die oog gehad.

Volgens stuff.co.nz het hy stoom op die mediakonferensie afgeblaas.

“Ek is ʼn professionele afrigter vir 20 jaar en nog nooit was dit nodig om na die media te hardloop en houe na die skeidsregter of die beamptes in te kry nie. Maar ek glo dat ek vanaand dit moet doen.”

Rennie het ook na ʼn voorval in verlede week se toets teen Skotland verwys toe Jonker ʼn geelkaart aanbeveel het om die stut Allan Alaalatoa af te stuur, maar dat Wêreldrugby gedurende die week dit as ʼn “verkeerde besluit” probeer regstel het.

“As daar ʼn televisieskeidsregter is, is daar geen verskoning om ʼn fout te begaan nie,” het Rennie gesê.

Wallis het op die ou einde met ʼn doodsnikstrafdoel deur die plaasvervanger-losskakel, Rhys Priestland, die knoop deurgehak.

Ondanks die Wallabies se nederlaag, het hulle moedig bly veg en vir tien minute met net 13 spelers klaargekom.

Punte: Wallis 29 (16): Drieë: Ryan Elais, Nick Tompkins. Doelskoppe: Dan Biggar (2). Strafdoele: Biggar (4), Rhys Priestland.

Australië 28: (13) Drieë: Andrew Kellaway, Nic White, Filipo Daugunu. Doelskoppe: James O’Connor (2). Strafdoele: O’Connor (2). Kurtley Beale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Twee goeie spanne met goeie spelers gekies op meriete,die span wat verloor weet hy het sy beste gegee met sy beste spelers beskikbaar

Harley Davidson ·

Wie lewer kommentaar Piet,pieter,die aliase is net te veel

Corne123 ·

Hoekom moet beampes altyd beskerm word? As n speler n span n wedstryd kos word hy oor die kole gehaal en verloor dalk sy plek in die span todat hy homselfnkan bewys.Selfde moet geld vir beamotes. As hy aanjaag moet hy afgradering kry.Ek stem saam noem hulle op hulle name sodat hulle ook voor n tigkometee moet verskyn net soos met spelers. SA het al heel moondlik n wereld beker verloor deur beamptes se swak blaas teen die assies.

N ·

Onnodige rooikaart vir Aus. En toe geelkaart. Rugby raak sag. Wallis raak gewoond om elke week net-net te wen teen 13-14 manne en die ref aan hulle kant.

Niklaas ·

Die TMO (Marius Jonker) is eintlik die sondebok en in Rennie se visier. Ek moet ongelukkig met Rennie saamstem oor TMO se dom foute. Marius Jonker moet hom liewer met skolerugby ophou.

Leon ·

Jonker het nou al keer op keer homself uiters swak van sy taak kwyt. Ek kan regtig nie verstaan hoe hy nog toegelaat word om enige wedstryd te TMO nie.

JohanR ·

Was Rassie toe verkeerd oor skeidregters? Na elke wedstryd moet skeifregters ook punte uit 10 kry soos die speelers, en dan ‘n geel kaart en dan ‘n rooi kaart soos die speelers.

twaalfboor ·

Get over it Rennie
Dis die einste Ausies wat “cry wolf” geskree het oor Rassie en aanbeveel het dat daar van hom ñ voolbeeld gemaak word. Het selfs gesê die bokke moet van die reeks oorwinning gestroop word. Sour grapes mate……

Andre ·

Weer is die uitkoms in die doodsnikke bepaal. Is dit nou nie eienaardige toevallighede nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.