Rugbyafrigters, tel jul seëninge

Peter de Villiers -Zimbabwe se afrigter (Foto: Facebook)

Afrika is nie ʼn plek vir sissies nie.

Dit het ʼn mens wéér besef toe die Zimbabwiese rugbyspan Maandagaand op ʼn sypaadjie buite ʼn hotel in Tunis, die hoofstad van Tunisië, moes slaap omdat hulle nie kans gesien het om in die hotel tuis te gaan waar hulle bespreek was nie.

Zimbabwe speel Saterdag in Monastir in Tunisië teen die tuisspan in ʼn kwalifiserende wedstryd vir die 2019-Wêreldbekertoernooi in Japan. Die slag is sommer met die reëlings al reeds geslaan en dit sal ʼn uiterste poging van deursettingsvermoë deur die Zimbabwiërs verg om die knoop deur te hak.

ʼn Mens het simpatie met die Zimbabwiese spelers, want die BBC het ʼn foto van een van die stukkende, vuil en vervalle badkamers geplaas waarin die span sou tuisgaan en wat hulle toe as verblyf geweier het.

Boonop het die spelers nog nie hul wedstrydgeld geld vir Saterdag se verloorstryd teen Kenia ontvang nie, ʼn kragmeting wat die Keniane met 45-36 in Nairobi gewen het.

Die spelers het ook nog nie hul daaglikse toelaes ontvang nie en die beleërde afrigter, Peter de Villiers, moes uit sy eie sak toebroodjies en koeldrank koop om die hongerpyne te stil.

Wêreldbekertoernooi, 2019?

Die span is ook verskeie ure aangehou toe hulle nie die vereiste bedrag van 600 euro, (20 euro per speler) kon opdok om die land binne te gaan nie.

Beroepsrugby, 2018?

Die span is helaas na ʼn ander hotel geskuif nadat beamptes ingegryp het.

Die wedstryd word in Monastir gespeel, ʼn kusdorp met sowat 93 00 inwoners en wat sowat 160 kilometer buite die hoofstad Tunis geleë is.

Weet De Villiers iets van die toestande, veld, speeloppervlak en kleedkamers af? Is daar voldoende mediese geriewe en hoe, waar en wanneer gaan die span daar uitkom?

Dit laat ʼn mens dink toe De Villiers, en talle ander afrigters voor en ook ná hom, die Bokke afgerig het en hulle alles op ’n skinkbord gekry het.

Die beste hotelle, oefengeriewe, luukse busse, borgskap op borgskap … noem dit maar op.

Alles was maandelank op die rugbyspyskaart, hulle moes net by die feesmaal aansit.

Nou word daar met die harde werklikheid kennis gemaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.