Rugbybase kan nie meer wegskram nie

sanzaarDie agteruitgang en swak spelpeil van die Force, en voeg sommer ook daarby die Southern Kings, Reds en Sunwolves, moet soos ʼn meulsteen om die nekke van Sanzaar se uitvoerende hoof, Andy Marinos, en die ander grootbase van Sanzaar wees.

Maandelank praat hulle daarvan om die reeks uit te brei, om nog spanne toe te laat. Maandelank het hulle die gebreke probeer toemessel, daarvan probeer wegskram, nie ʼn woord oor die chaos by die Kings gesê nie.

Maandelank is hulle op die gebreke gewys, op die absurde loting en groepe – en nou kry hulle die wind van voor nadat die kwynende toeskouergetalle voor hul deur gelê is.

Die Force het die eerste keer in 2006 in die reeks gespeel, onder die afrigterskap van John Mitchell.

Ja, hy het al ʼn hele paar keer sy brûe verbrand, maar op die veld kon niemand met hom stry nie.  Voordat hy aan die einde van 2010 afgedank is, het die Force 24 van hul 70 wedstryde gewen, 132 punte op die puntelys ingesamel en 28 bonuspunte verower. Vanjaar? Die Force kon nog net twee keer wen en het net 13 ligapunte.

Voeg die Reds se ewe swak 16 punte (drie wedstryde gewen) by en daar is groot rede tot kommer. Kyk maar hoe swak speel die spanne, kyk maar watter spanne maak marankas op toer. Kyk maar wie dank hul afrigters af.

Almal weet wat by die Kings gebeur het (en nog sal gebeur) en dit was vanselfsprekend dat dit na die veld toe sou oorspoel.  Hulle het ook net twee wedstryde gewen en nege punte in die sakkie – ewe veel as die Sunwolves, wat van hul tuiswedstryde in Singapoer speel. Sanzaar wil die spel uitbrei, maar dan speel jy mos in Fidji, Samoa of Tonga, of hoe?

Wat het van die belofte geword dat oorspoelspelers vir die Kings sou speel? As dinge nie in die raadsaal opgelos kan word nie, hoe moet daar verwag word dat die span goed moet speel?  Is die rugbybase tevrede daarmee?

Verlede jaar het die rugbybase die verskoning gehad dat die Wêreldbekertoernooi alles oorheers het. Nou is daar geen verskoning nie – twee Australiese spanne (die Force en Reds) hoort nie in die Superreeks nie, so ook die Kings en dalk ook die Sunwolves.

Dis die harde werklikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carel ·

Tyd om in toernooie met Europa mee te ding, dan kan die TV regte in Euoro beding word en sal die Europese spanne nie meer die beste spelers kan weg lok nie…….. ek sê dit ook tong in die kies want met kwotas neem ek nie jong spelers kwalik wat oorsee gaan speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.