Rugbybase moet houe maar op die ken vat

Elke keer wanneer die Vrystaatse Cheetahs in die Curriebekerreeks opdraf, kry die Suid-Afrikaanse rugbybase seker ʼn koue beklemming.

Dis amper soos wanneer jy papnat gesweet in die middel van die nag wakker word en nie weet waarvan jy gedroom het nie.

Die verskil is: Wanneer die jong, onervare Vrystaters in die Curriebekerreeks vir die wolwe gegooi word, is dit nie meer ʼn nagmerrie nie maar ʼn werklikheid.

Saterdag op Nuweland is die Vrystaatse Cheetahs met 57-14 deur die Westelike Provinsie vermorsel. Die vorige Saterdag het hulle onder die Sharks deurgeloop.

Die Vrystaat, danksy die groot voorsprong wat opgebou is voordat die Cheetahs in die Pro14-reeks begin speel het, klou nog aan die tweede posisie, maar hulle het reeds ʼn negatiewe punteverskil (-21) terwyl die Sharks (+89) en die WP (+81) met groot positiewe verskille in punte vir en teen spog.

Die Pumas, Goue Leeus en Blou Bulle en selfs Griekwas is op hulle spoor, gereed om toe te slaan en om die room af te skep.

Toe die reeks ʼn rapsie meer as twee maande gelede begin het, het die Vrystaat Cheetahs die Sharks met 47-12 en die WP met 30-17 geklop. Maar nadat hulle van hul Superrugby-status en dus van hul beste spelers gestroop is wat nou in die Pro14-reeks moet speel, is hulle onderskeidelik met 15-45 en 14-57 deur dieselfde teenstanders in die tweede ronde geklop.

Dis feitlik seker dat die Sharks boaan die punteleer sal eindig en dat die WP in die uitspeelrondes betrokke sal wees. As die Vrystaat Cheetahs baie diep kan delf en nog een oorwinning behaal, kan hulle derde of vierde eindig, maar dan sal die Pumas, Goue Leeus en Blou Bulle langs die pad moet vasval.

Die Goue Leeus het Griekwas Vrydag in Kimberley met 34-17 geklop en die Pumas het met 25-27 teen die Sharks verloor.

Die Curriebeker-deur staan dus nog wawyd oop.

Ligapunte ná agt wedstryde – Sharks (34), Vrystaat-Cheetahs (25), WP* (22), Goue Leeus (20), Pumas (18), Blou Bulle* (18) en Griekwas (16).

* Die WP en Blou Bulle het nog net sewe wedstryde gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Philip Spies ·

Die feit is die SA rugby base het al lankal die Cheetahs vir die wolwe gegooi! Eers het hulle Franco Smit se aandag verdeel tussen die Springbokke en die Cheetahs, wat altwee spanne negatief beinvloed. Toe sloer hulle vir maande oor die besluit om die Cheetahs uit Superugby te los, ‘n besluit wat letterlik almal geweet het gaan geneem word. Ten derde sloer hulle toe met die aankondiging oor die Cheetahs se deelname in die Pro14, weereens iets wat almal klaar geweet het, maar spelers kry nie die amptelike bevestiging nie. Nou vorseer hulle ‘n unie wat elke jaar spelers verloor om deel te neem in twee kompetisies gelyk! Waar is die ondersteuning wat aan die Cheetahs en Kings belowe is?
SA Rugby word deur amateurs bestuur wat net uit is om hulle eie sakke te vul. As iets nie drasties verander nie, gaan hulle net meer en meer steun verloor

Frans C ·

Daar is geen span in Suid Afrika wat mededingend in twee kompetisies kan wees nie.
Die Pro 14 spanne wemel van die Suidelike halfrondspelers en word soos Europese
sokkerspanne bestuur.
Ondersteuners van die spanne gee nie om wie vir hulle speel nie en of plaaslike talent
daaronder ly nie of nie ,solank die span net wen.Die mense wat die besluit geneem het om die Kings en Cheetahs aan die Pro 14 te laat deelneem leef in droomwêreld oor hul sterk
Suid Afrikaanse provinsies is.

[email protected] ·

Die enigste tyd wanneer alle spanne op volle sterkte is, is tydens superrugby. Cheetahs het dit nie daar gemaak nie (elke jaar maar hier by die laaste spanne rond). Ons moet nie vergeet hoekom hulle uit SR isnie, hulle is eenvoudig nie mededingend genoeg nie. Nou vind hulle met ‘n skok uit dat die Pro 14 maat basies dieselfde standaard as SR is met die gevolg dat ons meer van dieselfde kan verwag. Nie genoeg diepte nie, laat hulle afskuif na die B afdeling in CB en laat WP B/C in CB A afdeling meeding.

Nico K ·

Die Cheetahs het geen ander keuse gehad om in die Pro 14 te gaan speel nie. Ons almal weet die Curriebeker is die laaste paar jaar afgewater sedert die reeks sonder die Springbokke gespeel word en ons almal sien hoe leeg is die pawiljoene. Deur net in die Curriebeker reeks te speel gaan jy geen borge kry nie en al hul spelers gaan loop en hulle sal dan nog ‘n unie soos die OP word. En ek dink nie SA se rugbybase sou kon keer dat die Superreeks verklein word en ons 2 spanne moes verloor nie.

Jaco Esterhuizen ·

Daar is genoeg speelers om SA rugby sterk te maak, maar die rugby base kan net nie uit die tonnel viesie kom nie. SARVU se swak refs en geldelike steun verloor ons speelers. Ek wil aandring dat die refs n nwedstryd n lie detection moet gaan doen. As die ref net 25% van sy toets slaag kry hy net 25% salaris. Ons Paviljoene is leeg, ons talent loop dan kry ons refs wat bydra dat ons nie meer wil kyk nie.

Lol ·

Ons eie skeidsregter waarheidskommissie! Ek dink van hulle sal baie geld moet terugbetaal!

Johan ·

Het jy nou net uit n nagmerie wakker geskrik. Die Bulle het ook onder die Cheetahs geeindig.

LG Erasmus ·

:n Hele ruk gelede was daar besluit deur Sarvu dat ons unies in SA te veel is en dat van hulle moes saamsmelt en die unies het nie belanggestel nie en toe loop die rumour dood. So nou sien ons hoe dit gedoen word. Die cheetahs moet hulself distansieer van Curriebeker rugby sowel as van springbok rugby en voluit gaan vir pro14 dan sal die cheetahs se finansies ook verbeter en hulself dus ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.