Rugbybase se Super-nagmerrie

Super-Rugby logo with fieldʼn Mens bedien mos nie die malvapoeding voor die skaapboud nie.

Dis wat Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, doen toe die Superreeks Vrydagoggend ná ʼn onderbreking van vier weke hervat het.

Dis een van die tameletjies wat die rugbybase sukkel om te verorber, want dis mos mosterd na die maal om ná drie weke se toetsrugby, weer na Superrugby vir ʼn paar weke oor te skakel en dan die Rugbykampioenskap aan te pak.  Intussen is die Curriebekerreeks op die ashoop gegooi, al skerm die rugbybase ook al hoe.

Wanneer die opstellende ronde afgehandel is, sal spanne soos Griekwas, die Pumas en Boland (wat gunstelinge is om in die Curriebekerreeks te speel) voos wees.

ʼn Mens wil nie net kritiek uitdeel nie, want die spelers moet besig gehou word, hul salarisse moet betaal word en daar moet gekeer word dat die uittog na die buiteland nie heeltemal hande uitruk nie.

Maar die besluit om die Superreeks uit te brei en die Jaguares, Sunwolves en Southern Kings vrypas te gee, het heeltemal misluk.

Saam kon die drie spanne tot dusver net ses van hul 36 wedstryde wen (onthou hulle het ook teen mekaar gespeel en daar was elke keer ʼn wenner). Saam kon hulle net 773 punte aanteken, 92 drieë druk.  Hulle het 1 367 punte afgestaan en 181 drieë deurgelaat  ­­­- ʼn gemiddelde wedstrydtelling van 21-36. Klink nie te sleg vir ʼn eerste seisoen nie, sal Sanzaar, straks sê.

Maar plaas dit in perspektief,. Vergelyk dit met Nieu-Seeland se voorste drie spanne (die Crusaders, Chiefs en Hurricanes) wat reeds 155 drieë gedruk het.

Is die Jaguares nie maar die Argentynse toetsspan nie? Is daar nie meer as 20 toetsspelers in die Sunwolves se span nie? En wie sal die span aanstaande jaar afrig nadat Mark Hammett ná net een seisoen handdoek ingegooi het?

En die Kings? Dreigende hofsake, al hoe meer spelers wat padgee, kwynende toeskouersgetalle.

Sal die Southern Kings nog volgende jaar bestaan?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ek stem saam. Die uitbreiding van die superreeks was onnodig. Die belangstelling is net nie meer so groot nie. In elkgeval vir baie wedstryde nie. En ek is baie jammer oor die Curriebeker reeks. Maar dit is nou al ‘n paar jaar wat dit ons B reeks is omdat die Springbokke al lankal nie meer deel van die reeks is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.