Rugbybroers met wie jy nie skoor gesoek het

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Daar is sekere spelers op die rugbyveld waarmee jy nie moeilikheid soek nie en as hulle nog boonop broers is, bly jy ver van hulle af weg.

Tot dusver was daar vier stelle van drie broers wat vir die Springbokke gespeel het: die drie Luyt-broers, die drie Bekkers, die drie Du Plessis-broers en die drie Du Preez-broers.

Daar was ʼn rits ander broers wat ook vir die Bokke gespeel het soos Bismarck en Jannie du Plessis, Geo en Jacques Cronjé, Akona en Odwa Ndungane, Pieter en Chris Rossouw, Hasie en Oupa Versfeld en Gerhard en Jackie Morkel.

Maar as daar een stel broers is wat nooit vir die Springbokke gespeel het nie, maar meer op die voor- en agterblaaie van die koerante was, was dit die twee Bester-broers, Piet en André.

Piet was ʼn yster-vaskopstut wat aan die begin van sy loopbaan net 78 kilogram geweeg het. Hy het altyd sy moue hoog opgerol om sy boarmspiere te laat bult en het mettertyd tot 95 kg “uitgebult” voordat hy besluit het om halt te roep en hom eerder op ʼn regsloopbaan toe te spits.

Bester het geen nonsens van enige teenstander gevat nie en het in meer as 50 wedstryde vir Vrystaat en later ook vir Griekwas gespeel waar hy sy teenstanders verfomfaai het. Hy was in die Junior Springbokspan wat in 1992 teen die All Black-span gespeel het en sy kragtoertjies in die skrum het menige loskopstut huis toe laat verlang.

Daar word vertel hoe Ollie le Roux, net voordat hy sy buiging vir die Vrystaat gemaak het, teen Bester moes sak.

“Kom laat die oom jou seermaak,” het Bester aan Le Roux nog voor die eerste skrum gesê.

Die storie word ook vertel hoe die Vrystaat destyds een van die wêreld se voorste kragmanne in ʼn stut wou smee. Dié kragreus was jarelank Suid-Afrika se sterkste man, het vragmotors met gemak rondgetrek en ysterballe opgetel en rondgegooi.

Hy is teen Piet Bester in ʼn skrumoefening geweeg, wat hom al die (eerlike en oneerlike kunsies) van skrumwerk binne ʼn uur gewys het. Die uiteinde: die kragreus het die volgende Saterdag weer ysterballe gaan optel eerder as om in ʼn skrum te sak.

André Bester het haker vir Vrystaat en Griekwas gespeel, maar sy loopbaan in Suid-Afrika is tot stilstand geruk ná die André Markgraaff-kassetbande waar hy die Bokafrigter in die geheim opgeneem het, aan die lig gekom het.

André Bester het hierna oorsee verhuis en onder meer vir London Irish gespeel voordat hy hom as ʼn knap afrigter bekwaam het. Hy rig nou vir Aurillac in die Franse Pro2D met welslae af… daar waar jy moet weet hoe om te skrum.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

My oorle’ Oupa se oom Gert en dié se twee seuns het tot op gevorderde ouderdom in Silverton gespeel, oom Gert as haker vir die Eerstespan, en sy twee seuns slotte vir die Tweedespan. Huismoles was daar bykans nooit, as oom Gert ontevrede was, het hy die twee by skrumoefeninge reggesien.

Michael ·

Die skrumstories is maar soos die visvangstories, hoe meer dit oorvertel word hoe groter en erger word dit-neem maar met knippie sout

Chris ·

Die persoon wat gewoonlik nooit aan ‘n rugbybal gevat of ooit ‘n wedstryd gespeel het, het baie keer die meeste te sê oor rugbyspelers en die sportmangees wat tussen hulle heers. Ek het rugby gespeel vir die liefde vir die sport en om aktief te wees. Daar is baie ander sporte waar jy ook aktief is maar rugby het ‘n “ander kultuur” gehad. Ek weet nie hoe die manne deesdae met mekaar oor die weg nie. Jy het soos in elke beroep/sport jou “karakters” gehad wat nie net die spel kleur gegee het nie maar ook die lewe vir jou versier het. Die teendeel is ook daar dat daar manne was wat die spel onguns aan gedoen het met ander onderduimshede en ongure optredes. Ek sien nog gereeld van die manne wat saam met my rugby gespeel het en loop ander weer raak wat staaltjies het om te vertel. Dit maak die lewe interressant en kan net lag oor wat van die manne aangevang het. Party het met baie weggekom, ander was minder gelukkig.

Willem ·

Daar was ook Grobler broers van Piet Retief se wereld. Die jongste dink ek het later Springbok geword

Niklaas ·

Die manier waarop Andre Markgraaf se gesprek (met rassistiese ondertone) op band opgeneem was , is nie juis iets waarop ek trots sou wees nie. So Andre Bester is gewis NIE een van my helde nie. Ek sien dit as gemene vuilspel .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.