Rugbykampioenskap: All Blacks stamp Bokke van troon

Nieu-Seeland se All Blacks doen die Haka (3 Julie 2021) (Foto: Michael Bradley/AFP)

Die All Blacks-rugbyspan het nie net hul een hand reeds op die Rugbykampioenskap‑trofee nie, maar hulle het ook die Springbokke as Wêreldrugby se voorste span van die troon gestamp.

Nadat die Wallabies die Bokke in Saterdag se eerste wedstryd in Brisbane met 30 – 17 met rooi gesigte gelaat het, het die Nieu-Seelanders die Argentynse Poemas met 36 – 13 geklop nadat hulle rustyd met 24 – 3 voor was.

Die All Blacks het nou 20 punte op die puntelys, gevolg deur die Springbokke se 10.

As die Springbokke die reeks teen alle verwagtinge in wil wen, sal hulle twee opeenvolgende oorwinnings oor die All Blacks moet behaal en sorg dat die All Blacks geen bonuspunte kry nie.

Ook is die All Blacks se punteverskil 114 teenoor die Bokke se 24.

Die All Blacks het met hul ondernemende samespel reeds 24 drieë in vanjaar se reeks gedruk en sewe afgestaan, terwyl die Bokke (teen dieselfde twee teenstanders, die Wallabies en die Poemas) net nege drieë kon druk en ses afgestaan het.

Dit lyk dus asof die Springbok-ondersteuners na strooihalms gryp as hulle enigsins hoop om die Rugbykampioenskap te wen, veral ook in die lig van hoe die Bokke in twee toetse teen die Wallabies kleigetrap het.

Die All Blacks se wentelling kon Saterdag nog groter gewees het as hulle nie in eerste helfte drie keer teruggeroep is nadat hulle ná vorentoe-aangeë “drieë” gedruk het nie en as die plaasvervanger-skrumskakel, Finlay Christie, nie met ʼn oop doellyn die bal in die tweede helfte verloor het nie.

Dit was ook nie die All Blacks beste span nie, want afgesien daarvan dat die afrigter, Ian Foster, 12 veranderings aan die span aangebring het wat die Poemas verlede Saterdag met 39 – 0 geklop het, is al die plaasvervangers ook kans gegee om te speel.

Dit het hul ritme erg versteur en die deur vir die Poemas oopgelaat om terug te veg.

Ten spyte hiervan kan die Poemas baie uit dié vertoning put en hulle kan teen die Wallabies verras as hul dissipline nie lol nie.

Punte: Nieu-Seeland 36 (24): Drieë: Tupou Vaa’i (2), Patrick Tuipulotu, TJ Perenarai, Samisoni Taukei’aho. Doelskoppe: Jordie Barrett (4). Strafdoel: Barrett.

Argentinië 13 (3): Drieë: Emiliano Boffelli. Doelskop: Boffelli. Strafdoele: Boffelli (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niklaas ·

Verrassings het ons al gesien in rugby, maar ek glo die Allblacks kan rustig en kommervry uitsien na 2 maklike oorwinnings oor die Bokke. Min mense kan optimisties oor Bokke se kanse voel as hul spel teen Aus enige maatstaf is.

pieter ·

Die bokke se dae is getel , eentonige spel wat hulle speel , die ab kan maar rustig slaap.

Werner ·

Die grootste vloekskoot was toe ons die wereldbeker gewen het.Hierdie kuikenmoord is nou die bewys daarvan.Ons rugby is in elk geval in die drein af soos die res vd land.

JBN ·

Baie goeie nuus. Die Anc se rassistiese kwotabeleid is ook nou van die troon gestamp deur n span wat op meriete gekies is. Die verwaande bok ondersteuners is ook nou van hul troon af terug op moeder aarde.

jou gewete ·

hallo grapjas Didi, jys te oulik. hahahahahahahahahahahahahahahahahahahahahahahhahahaha. Glo jy dit rerig Piet. siestog fooitog f..

Vrijburger ·

Nee Piet. En selfs al is dit dalk, miskien, moontlik waar – die hele rugby en sport stelsel in SA is gebaseer op kwotas, vanaf laerskoolvlak vind hierdie diskriminasie plaas.

Corne123 ·

daarsy waar hulle hoort heel bo aan die lys bolle verdien dit nie

Kokkie ·

…….want die All Blacks is loshande die beste in die wêreld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.