Rugbykampioenskap: All Blacks wil Pumas se tjank aftrap

Die Argentynse Pumas kan die Bokke ʼn baie groot guns bewys wanneer hulle Saterdag in New Plymouth teen die All Blacks in ʼn toets in die Rugbykampioenskap speel, maar ons glo tog sekerlik nie aan die tandemuis nie.

Die All Blacks is nie meer die onoorwinlikes van ʼn jaar gelede nie. Die Iere het hulle verlede jaar in November in Chicago geklop, die Britse en Ierse Leeus het in Junie die tweede toets in Wellington gewen en die reeks van drie toetse gedeel. Die Wallabies het die All Blacks twee weke in Dunedin teen die planke gehad, maar kon nie die uitklophou plant nie.

Daar is leemtes, maar kan die Pumas dit oopvlek? Die span wat met 37-15 en 41-23 deur die Bokke in die eerste twee Rugbykampioenskappe geklop is?

ʼn Span wat weekliks geskommel word, ene wat nie meer stewig kan skrum nie, wie se dissipline veel te wense oorlaat, ene wat nie weet of hulle moet hardloop of skop nie?

Die All Blacks se keurders het ʼn paar van hulle sleutelspelers soos Rieko Ioane, Ryan Crotty, Aaron Smith, Sam Whitelock en Liam Squire met die oog op volgende Saterdag se toets in Albany teen die Bokke laat rus en Ben Smith speel eers weer aanstaande jaar.

Hul plaasvervangers, onderskeidelik Nehe Milner-Skudder, Anton Lienert-Brown, TJ Perenara, Luke Romano, Vaea Fifita en Israel Dagg sal die span geensins verswak nie. Trouens, die Pumas kan hul lywe maar vetsmeer, want as dit nie reën nie, gaan die All Black hardloop en hardloop en ek weet nie of die Pumas sal kan byhou nie.

Die Al Blacks jaag ʼn bonuspunt want dit maak nie goeie leesstof in Nieu-Seeland dat die Bokke voor hulle op die puntelys is nie.

Die spanne – 

Nieu-Seeland
Damian McKenzie, Israel Dagg, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams, Nehe Milner-Skudder, Beauden Barrett, TJ Perenara, Kieran Read (kaptein), Ardie Savea, Vaea Fifita, Brodie Retallick, Luke Romano, Nepo Laulala, Dane Coles, Joe Moody. Bank: Codie Taylor, Wyatt Crockett, Ofa Tu’ungafasi, Scott Barrett, Sam Cane, Tawera Kerr-Barlow, Lima Sopoaga, Ngani Laumape.
Argentinië
Joaquin Tuculet, Santiago Cordero, Matias Moroni, Jeronimo de la Fuente, Emiliano Boffelli, Nicolás Sanchez, Tomas Cubelli, Benjamin Macome, Javier Ortega Desio, Pablo Matera, Matias Alemanno, Guido Petti, Nahuel Tetaz Chaparro, Agustin Creevy (kaptein), Lucas Noguera Paz. Bank: Julian Montoya, Santiago Garcia Botta, Enrique Pieretto Heilan, Marcos Kremer, Tomas Lezana, Martin Landajo, Santiago Gonzalez Iglesias, Matias Orlando.

Skeidsregter: Angus Gardner (Australië)
Assistent-skeidsregters: Nigel Owens (Wallis), Matthew Carley (Engeland).
TV-skeidsregter: George Ayoub (Australië).
Verwagte weer: Goeie kans op reënbuie, sterk noordweste wind.

Afskop: 09:35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ongelukkig vir ons moet ek saam stem. Die Argentyne se kans is maar klein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.