Rugbykampioenskap: alles is teen die Wallabies

Rugbykampioenskap (Argieffoto)

Hoe berei jy ʼn span voor wat net drie van sy laaste 22 toetse teen die All Blacks kon wen?

Hoe sweep jy jou spelers op as daar bitter min vertroue in die nasionale bestuur is, as jou land se rugbyunie se uitvoerende hoof bedank het en nog drie ander senior bestuurslede in sy voetspore gevolg het?

Hoe berei jy ʼn span voor wanneer spanmaats in die middel van ʼn regsgeding staan, wanneer daar ʼn swaard oor die Force-spelers se toekoms hang en hulle kamers moet deel met die Rebels, wat hul Superrugbystatus behou het?

En hoe sweep jy ʼn span op as sy vyf Superrugbyspanne nie een van sy 26 wedstryde in vanjaar se Superreeks teen hul Nieu-Seelandse eweknieë kon wen nie?

Hoe motiveer jy die spelers as jy drie weke gelede oor hul fiksheid gekla het, en jy hulle vir ʼn hele paar dae by ʼn nasionale oefenkamp laat hardloop, hardloop en hardloop het om te probeer toetsfiks word?

En hoe sweep jy ʼn span op as die land se ondersteuners hul vertroue in jou verloor het, as al die toetskaartjies nie verkoop is nie, en die ondersteuning besig is om weg te kwyn?

Dít is die groot struikelblokke wat Saterdag in Sydney op die Wallabies wag wanneer hulle die All Blacks in die eerste Rugbykampioenskap- en Bledisloetoets aandurf.

Die Wallaby-agterlyn lyk baie soos dié van ʼn Suidsee span:, Israel Folau, Henry Speight, Samu Kerevi, Kurtley Beale, Curtis Rona en Will Genia. Dis hierdie natuurlike talent wat moet oorborrel, wat gate in die All Blacks se verdediging moet slaan, om met rotsvaste verdediging die All Blacks se aanvalle in die kiem te probeer smoor.

Maar ek is bevrees dat die Wallabies se pak nie die nodige vaardighede en fisieke vermoë het om die All Blacks te pootjie nie of om genoeg beheerde besit te verower om vir een van die grootste rugbyskokke in jare te sorg nie.

Dalk speel die Engelse skeidsregter Wayne Barnes ʼn rol; dalk kry een van die All Blacks ʼn kaart; dalk is die Wallabies se plaasvervangersbank beter.

Maar as jy eers aan sulke strooihalms moet klou, kan daar mos net een wenspan wees.

Die spanne –

All Blacks
Damian McKenzie, Ben Smith, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank: Nathan Harris, Wyatt Crockett, Ofa Tu’ungafasi, Luke Romano, Ardie Savea, TJ Perenara, Lima Sopoaga, Anton Lienert-Brown.

Wallabies
Israel Folau, Henry Speight, Samu Kerevi, Kurtley Beale, Curtis Rona, Bernard Foley, Will Genia, Sean McMahon, Michael Hooper (kaptein), Ned Hanigan, Adam Coleman, Rory Arnold, Allan Alaalatoa, Stephen Moore, Scott Sio. Bank: Tatafu Polota-Nau, Tom Robertson, Sekope Kepu, Rob Simmons, Lopeti Timani, Nick Phipps, Reece Hodge, Tevita Kuridrani.

Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland).
Assistent-skeidsregters: Nigel Owens (Wallis), Andy Brace (Ierland).
Televisieskeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).

Afskop: 12:00 (SA tyd).

Verwagte weer: Koel in die aand, met sterk wind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.