Rugbykampioenskap: die ou cliché van twee helftes

70856510

Dit was in die eerste helfte van Saterdag se Bledisloetoets teen die Wallabies in Sydney een van die All Blacks se beste vertonings nóg in die Rugbykampioenskap, maar hulle het hul uithalerspel met ʼn erg middelmatige vertoning in die tweede helfte bederf.

Nieu-Seeland het nietemin met 54-34 gewen nadat hulle rustyd reeds met 40-6 teen Australië voor was. Dit was die grootste telling wat nóg teen die Wallabies in die eerste helfte van ʼn toets aangeteken is.

Die All Blacks het teen ʼn baie hoë tempo gespeel. Hul besluitneming, samespel en ondersteuning was ʼn lus om te aanskou en hulle het die Wallabies in foute gedwing en gewurg.

Die “nuwelinge” Damian McKenzie, Rieko Ioane en Liam Squire het saam met die terugkerende Sonny Bill Williams en ervare spelers soos Ryan Crotty,  Beauden Barrett en Aaron Smith op die aanval geskitter.

Hier kom ʼn honderdtal, het dit deur ʼn mens se kop begin flits.

Maar ná rustyd het die All Blacks uitgerafel; die Wallabies het 28 punte aangeteken en die All Blacks net 14.

Hoekom? Want die All Blacks se afrigter, Steve Hansen, het van sy sleutelspelers soos sy hele voorry, die slot Sam Whitelock, Smith, Crotty en McKenzie vervang. Dis sekerlik gedoen om die spelers vir aanstaande Saterdag se toets in Dunedin vars te hou, maar die ritme en samespel was daarmee heen.

Die All Blacks het foute begin begaan, hul besluitneming en hantering was ewe skielik verdag en die pak kon nie meer oorheers nie.

Daarteenoor het die Wallabies se pak beter in die vaste fasette gevaar en die opportunisme van Kurtley Beale, Tevita Kuridrani en Israel Folau het tot drieë gelei.

Wat kon die Bokke wys word? Die All Blacks, soos enige span, kan gestuit word wanneer hulle onder druk geplaas word en hul ritme versteur word.

Maar as jy hul kanse gee, is jou dae getel.

En die Wallabies? Speel hulle soos in die eerste helfte, wag daar groot slae. Speel hulle soos in die tweede helfte, sal die Bokke moet ligloop.

Puntemakers –

All Blacks (40) 54: Drieë: Liam Squire, Rieko Ioane 2, Ryan Crotty 2, Sonny Bill Williams, Damian McKenzie, Ben Smith. Doelskoppe: Beauden Barrett 7.

Wallabies (6) 34: Drieë: Curtis Rona, Tevita Kuridrani, Kurtley Beale, Israel Folau. Doelskoppe: Bernard Foley 4. Strafdoele: Foley 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.