Rugbykampioenskap in logistieke chaos gedompel

’n Wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks is altyd iets om na uit te sien. Foto: Odd Andersen/AFP.

Die Rugbykampioenskap is in ’n logistieke chaos gedompel nadat Nieu-Seeland Rugby (NZR) besluit het dat die All Blacks se tuistoetse nie sal kan voortgaan nie.

Die Springbokke sou op 25 September hul 100ste toets teen die Kiwi’s gespeel het, met die tweede toets wat die daaropvolgende Saterdag in Auckland gespeel sou word.

Streng reis- en kwarantynregulasies het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en Nieu-Seeland Rugby (NZR) het intussen ook aangekondig dat hy nie ’n span vir hierdie naweek se derde Bledisloebeker-kragmeting teen Australië in Perth sal kan stuur nie.

“Ons deel in die hartseer van ons ondersteuners, spelers en belanghebbendes. Ons dink veral aan diegene in Dunedin waar al die kaartjies vir die 100ste toets tussen die All Blacks en die Springbokke uitverkoop is, het Mark Robinson, uitvoerende hoof van NZR, gesê.

“Ná gesprekke met die regering het dit egter duidelik geword dat Covid-19-regulasies dit onmoontlik maak om die Springbokke na Nieu-Seeland te bring, terwyl ons begrip daarvoor het dat Nieu-Seelanders se gesondheid die hoofprioriteit is.”

Maroela Media het vroeër berig dat Nieu-Seeland die afgelope Dinsdag ’n drie dae lange inperking aangekondig het nadat ’n enkele Covid-19-geval in die land aangeteken is. Die nuwe koronavirusgeval is vermoedelik van die hoogs aansteeklike Delta-variant.

Die vlugtige inperking volg nadat die land die afgelope ses maande geen Covid-19-gevalle aangeteken het nie.

Intussen het Jurie Roux, SA Rugby (Saru) se uitvoerende hoof, gesê dat die oorblywende Rugbykampioenskap-wedstryde in Suid-Afrika beslis kan word, mits die regering natuurlik die groen lig gee.

“Ons is nou al ’n goedgeoliede masjien wat die aanbied van groot wedstryde in die Covid-19-era betref. Ons het die stadions vir die wedstryde en verblyfplekke beskikbaar, ons kort net die nodige toestemming,” het Roux gesê.

’n Ander moontlikheid is dat die res van die Kampioenskap in Europa beslis sal word. Argentinië en die Wallabies het juis in 2016 op Twickenham kragte gemeet.

“Ons wil graag die volle Rugbykampioenskap speel en ons sal saam met belanghebbendes werk om hierdie belangrike wedstryde te herskeduleer,” het Robinson gesê.

Môre se tweede wedstryd tussen die Springbokke en Argentinië gaan steeds voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Dankie tog ek bly nie tussen daai klomp sneeu vlokkies nie :-)

Kokkie ·

Ek dink die omstredenheid met die toetse teen die Britse en Ierse Leeus gaan meebring dat die Australasiese spanne nie lus gaan wees om in SA te kom speel nie.

Niklaas ·

Dis nou jammer. Die toetse teen die AB s sou hard en taai gewees het.

Jan ·

Ek dink nie die All Blacks is bereid om in lee stadion te speel nie en hulle grense is gesluit plus hulle het 28 nuwe gevalle SA het 13000 plus Covid gevalle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.