Rugbykampioenskap: seges teen Franse tel nie meer

springbok-rugby-logoDaar is genoeg voorbeelde, ook onlangs, om te bewys dat eenderse uitslae agtereenvolgens nie ʼn gegewe is nie. Om vandag te verloor en môre maklik te wen, is nie ongewoon nie.

Dit sal Eben Etzebeth-hulle loon om hulle nie blind te staar teen die maklike reekssege teen ʼn verswakte Franse span nie.

Wanneer die Springbokke Saterdag in Nelson Mandelabaai-stadion teen die Poemas uitdraf, sal dit wees met die wete dat die laaste toets tussen die twee spanne deur Argentinië in Salta met 26-24 gewen is. Dit was verlede jaar se tweede kragmeting tussen die twee spanne nadat die Bokke in Nelspruit gespartel eerder as geveg het om met 30-23 te wen – danksy ʼn paar stukkies geluk.

Is die Bokke nou uit hulle rugby-babalaas? Die selfvertroue, geregverdig maar miskien daardie titseltjie te veel, is terug. Maar is die dinge wat gehaper het, waarvan vaardigheid en oordeel die grootste was, nou heeltemal in plek ná Franco Smith en Brendan Venter se insette?

Dan kom die derde, en miskien die belangrikste (en veelvuldige vraag): waarvoor moet die Bokke Saterdag lig loop en hoe kan hulle die Poemas hokslaan?

Die Poemas hardloop graag; nie met die vryvloeiende, opvallende en opwindende rugby en deurbrake van byvoorbeeld die All Blacks nie.

Kyk maar mooi hoe hulle agterlyn, selfs met die teenstand op hulle, hul plan agterlangs onder druk uitvoer. Klein breekslaggies, goeie interaksie, en dan die oopte vorentoe.

Dis ʼn pluspunt. Hulle het boonop die vermoë om uit gebroke spel aan’ t hardloop te gaan.

Dus: aggressie, oorheersing in die vaste los; goeie lynstaanbesit … dit klink alles basies en dit ís, maar dit is ʼn voorvereiste.

Franco Mostert en Ross Cronjé moet Saterdag. op alle silinders vuur (Foto: GB Jordaan)

Slegs dán sal Ross Cronjé en Elton Jantjies die patroon kan afdwing teen die gesoute Martin Landajo en Nicolás Sánchez.

Op die vleuel sal Raymond Rhule, met sy verdedigingstekortkominge teen die Franse, sy hande vol hê met die groot Emiliano Boffell en Courtnall Skosan sal eweneens die groter Ramiro Moyano moet vasvat.

Dit gaan nie maklik wees nie. Die Poemas het twee van die laaste vyf wedstryde tussen die spanne gewen: een tuis in Salta. ʼn Kykie hieronder na die uitslae sedert 2012 wys dat Argentinië met een uitsondering altyd baie mededingend was.

ʼn Riller is nie uitgesluit nie; en Ramiro Moyano  Boksege is nie vanselfsprekend nie.

Uitslae sedert 2012 –

2016: Argentinië wen met 26-24, Salta
2016: Suid-Afrika wen met 30-23, Nelspruit
2015: Suid-Afrika wen met 24-13, Londen (Wêreldbeker uitspeel om derde plek)
2015: Suid-Afrika wen met 26-12, Buenos Aires
2015: Argentinië wen met 37-25, Durban
2014: Suid-Afrika wen met 33-31, Salta
2014: Suid-Afrika wen met 13-6, Pretoria
2013: Suid-Afrika wen met 22-17, Mendoza
2013: Suid-Afrika wen met 73-13, Soweto
2012: Suid-Afrika en Argentinië speel gelykop, Mendoza
2012: Suid-Afrika wen met 27-6, Kaapstad

Suid-Afrika
15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Uzair Cassiem, 7 Jaco Kriel, 6 Siya Kolisi, 5 Francois Mostert, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Coenie Oosthuizen, 2 Malcolm Marx, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Jean-Luc du Preez, 21 Francois Hougaard, 22 Curwin Bosch, 23 Damian de Allende.

Argentinië
15 Joaquín Tuculet, 14 Ramiro Moyano, 13 Matías Orlando, 12 Jerónimo de la Fuente, 11 Emiliano Boffelli, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Leonardo Senatore, 7 Tomás Lezana, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Guido Petti, 3 Enrique Pieretto, 2 Agustín Creevy (kaptein), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Julián Montoya, 17 Lucas Noguera, 18 Ramiro Herrera, 19 Marcos Kremer, 20 Javier Ortega Desio, 21 Tomás Cubelli, 22 Juan Martín Hernández, 23 Matías Moroni.

Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk)
Assistent-skeidsregters: Pascal Gaüzère (Frankryk), Nic Berry (Australië)
Televisieskeidsregter: Glenn Newman (Nieu-Seeland)

Afskop: 17.00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Is dit nie tekenend dat geen rugby skrywer enigiets te sê het oor die bydrae wat die springbok afrigter tot die span kan maak nie; maar almal (bykans sonder uitsondering) hoop en vertrou dat Franco Smit en Brendan Venter se werk die wa deur die drif sal trek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.