Rugbykampioenskap: só naby en tog só ver vir die Wallabies

Daar is sekere dinge in rugby wat jy nie kan koop nie, soos om in jouself te glo, en te blý glo.

Die All Blacks het Saterdag in Dunedin die soveelste keer ʼn toets uit die kake van ʼn nederlaag geruk toe hulle die Wallabies met 35-29 geklop het nadat die rustydtelling 17-14 in Australië se guns was.

Die Wallabies was in 77ste minuut nog met 29-28 voor, maar twee stukkies briljante individualisme deur die All Blacks se kaptein, Kieran Read, het Nieu-Seeland by die agterdeur laat inglip nadat die losskakel, Beauden Barrett, die wendrie gedruk het.

Hoe verduidelik jy aan enigiemand hoe ʼn span wat die vorige week met 30 punte geklop is, ʼn metamorfose kan ondergaan en byna die wêreld se beste span, nogal in Dunedin, kan klop?

Hoe verduidelik jy dat ʼn span wat in Sydney  uiters swak verdedig het, binne ʼn week weer kon aanleer hoe om te verdedig? Of dat ’n span drie helftes (verlede week se tweede helfte in Sydney en gister in 78 minute) die All Blacks ore kan aansit en steeds verloor? Hoe verduidelik jy dat ʼn span wat vyf drieë kon druk, steeds verloor?

Die verduideliking is maklik: jy speel teen die All Blacks.

Hulle glo aan hulself en aan hul eie vermoë, hulle glo dat hulle die wendrie in die tweede laaste minuut kan druk.

Dít is wat die All Blacks van ander spanne onderskei. Hulle sal nooit gaan lê nie.

♦  Sake het van die begin af vir die All Blacks verkeerd verloop. Die wedstryd het laat begin omdat daar probleme met die spreiligte was. Die spanne was reeds opgewarm, toe kleedkamer toe, weer terug op die veld en weer kleedkamer toe.

Dalk het die emosie oor die dood en eerbetoon aan die legendariese oud-All Black Colin Meads die All Blacks laat afskakel, want toe die Wallaby-heelagter, Israel Folau, ná slegs 26 sekondes die bal onderskep en meer as 70 meter vir die eerste drie deurgenael het, het die waarskuligte begin flikker.

Die Wallabies was met 17-0 voor ná nog twee drieë deur  na Michael Hooper en Michael  Foley.

Maar van boedel oorgee, soos wat die Wallabies verlede week gedoen het, was daar nooit sprake nie, al het die Wallabies het vyf skitterdrieë gedruk. Die All Blacks het eenvoudig geantwoord,  ook met vyf drieë.

Wat kan ons wys word?

Dat die All Blacks geklop kan word, en dat die Wallabies nie sonder handskoene aangedurf kan word nie.

Het Foley beter pale te geskop, kon die Wallabies gewen het, maar as is verbrande hout.

Jy kry dalk net een kans om die All Blacks te klop. 

Puntemakers – 

Nieu-Seeland  (14) 35: Drieë: Rieko Ioane, Aaron Smith, Ben Smith, Beauden Barrett 2. Doelskoppe: Barrett 5.
Australië (17) 29: Drieë: Israel Folau, Michael Hooper, Brendan Foley, Will Genia, Kurtley Beale. Doelskoppe: Foley 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Die Wallabies het nie verlede week boedel oorgegee nie. Hulle het die tweede helfte meer punte as NZ aangeteken en op ‘n stadium amper gelyk of hulle soos Lazarus kon maak. Uitstekende wedstryd in Dunedin gewees.

Hermanus ·

Ek stem saam. Dit was ‘n fantastiese wedstryd om te kyk en hoë gehalte rugby gewees.

Frans C ·

Die wedstryd kon gelykop geëindig het as Foley beter geskop het,want beide spanne het vyf drieë gedruk,waarvan Foley net twee kon verdoel.

What a joke! ·

Wat n aanskoulikke wedstryd! Ek voel jammer vir die Wallabies oor die verloor maar dit wys die All blacks kan gewen word self tuis op hul eie grond… Ander spanne kan maar gerus meer gebruik maak van skepskoppe teen die ALL blacks veral naby hul doel lyn is dit deksels hard om hul verdediging te breek!Foley het heeltemsl te veel skoppe gemis en teen die All blacks tel elke liewe punt!

Callie ·

Die slegte nuus is die groot opwaartse kurwe van die Wallabys. Met n middelmatige springbokspan het dit geblyk daar is n kans om hulle te klop. Die wiel het nou gedraai. In Astralie gaan die bokke sweet en verloor in Nieu zeeland. Hoe ver bokke teen AB verloor gaan bepaal hoeveel vertroue is oor vir die wedstryde in SA. ons moet dankbaar wees vir die nuwe hulp afrigters. Duidelik hulle maak n verskil

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.