Rugbykampioenskap: Wallabies kanonvoer vir All Blacks

Foto: (AP Photo/Trevor Collens)

Die Springbokke sou hulle in alle waarskynlikheid teen die All Blacks vasgeloop het as hulle vanjaar onvoorbereid in die Rugbykampioenskap in Australië gespeel het, maar die Wallaby-span wat Saterdag in Sydney teen die Kiwi’s gespeel het, sou straks ook kanonvoer vir die Bokke gewees het.

Dit het die All Blacks bewys toe hulle die derde Bledisloe-toets en eerste kragmeting in die afgewaterde Rugbykampioenskap (sonder die Bokke) met 43 – 5 gewen het om hul grootste oorwinning nog oor die Aussies te behaal.

Die All Blacks was rustyd met 26 – 0 voor en het die jong Wallaby-span die waardevolle lesse  van toetsrugby geleer.

Die All Blacks se oorwinning is een punt meer as die sege van 43 – 6 wat die All Blacks in 1996 in Wellington oor die Wallabies behaal het.

Die Wallabies gaan deur ʼn groeifase en het verskeie groentjies gekies, soos die senters Irae Simone en Jordan Petaia, die losskakel Noah Lolesio, die agtsteman Harry English en die plaasvervangers, Tate McDermott, Fraser McReight and Hunter Paisami.

Ja, dalk is die eerste sooie gespit vir 2027 se Wêreldbekertoernooi, maar ongelukkig gaan jy nie oorlog toe met jong seuns nie.

In toetsrugby beperk jy jou foute tot die minimum, jy gee nie besit weg nie, veral nie as jou voorspelers nie genoeg besit verkry nie, jou taktiese skopwerk en verdediging moet in die kol wees en vergeet van die Sonny Bill Williams-aangeë wanneer jy onder druk is.

Dan het die nat veld en glibberige bal ook nog sy verdere tol geëis.

Teen All Black-hardebaarde soos Sam Whitelock, Dane Coles, Sam Cane, Shannon Frizell, die drie Barrett-broers, Beauden, Jordie en Scott, Anton Lienert-Brown, Jack Goodhue, Richie Mo’unga en Aaron Smith is dit vir moeilikheid soek.

Die spanne ding komende Saterdag weer in Brisbane mee. Tensy die Wallaby-afrigter, Dave Rennie, van sy meer ervare spelers inspan, gaan daar weer net een wenner wees.

* Punte: Nieu-Seeland 43 (26) Drieë: Karl Tu’inukuafe, Richie Mo’unga (2), Dan Coles, Rieko Ioane, Jordie Barrett. Doelskoppe: Mo’unga (5). Strafdoel: Mo’unga.

Australië: 5 (0): Drie: Noah Lolesio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis nou ‘n pakslae van ‘n ander aard en tipies Nieu-Seeland! Tog het ek nie so ‘n swak vertoning van die Australiërs verwag nie.

Therese ·

Janee, absolute kuikenmoord!
Die All Blacks kan gerus die Bledisloe Cup na 20 jaar se ononderbroke oorheersing hul eiendom maak.
Dit raak nou ‘n vernedering en doen niks om jong Aussie skoolseuns weg te lok van NRL en AFL nie.
‘n Nuwe driehoekige kompetisie tussen die Noord- en Suid-eiland en die Wallabies sal ‘n nuwe uitdaging bied in die plek van die voorspelbare Bledisloe.
Kan hulle egter so ver dink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.