Rugbykampioenskappe: Dis hoekom Bokke wíl wen

(Foto: Twitter/Springbokke)

As daar een woord is wat nie in Rassie Erasmus (en Jacques Nienaber) se woordeskat bestaan nie, dan is dit “verloor”.

Daar is ʼn ou uitdrukking in sport wat glo die eerste keer deur die legendariese Amerikaanse voetbalafrigter Vince Lombardi gebruik is, wat lui: “Wys my ʼn goeie verloorder en ek wys jou ʼn verloorder.”

Maklik soos dit.

Baie jare gelede het ek een Kersoggend ʼn boek, Nice guys come second, as geskenk gekry. Dit het gehandel oor die Brits en Ierse Leeus-toer van 1974, hoe die Bokke gemesmeraais en verneder is, hoe hulle die reeks met 3-0 verloor het, al was hulle die gawe ouens.

Dis hoekom vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap, wat deur Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië betwis word, so belangrik is.

Vergeet daarvan dat dit Wêreldbekerjaar is en vergeet daarvan dat die uitslae nie van kern-belang sal wees nie.

Die Springbokke, wat in 2019 ook die Rugbykampioenskappe gewen het, weet dat alles oor momentum draai en dat dit die hoeksteen vir die verowering van die Webb Ellis-trofee in Frankryk sal wees.

Klop die All Blacks, Wallabies en Poemas en die grondslag sal gelê wees, al sal dit nie maklik wees nie.

Die Springbokke speel tuis teen die Wallabies (8 Julie op Loftus Versfeld), op 15 Julie teen die All Blacks in die Mount Smart-stadion in Auckland en op 29 Julie teen die Poemas op Ellispark.

Nienaber het dit duidelik gemaak dat die Bokke die Rugbykampioenskap wil wen, al beteken dit dat 15 spelers vroeër na Nieu-Seeland gestuur gaan word en nie eers na die Wallaby-toets nie.

Dit sal na alle waarskynlikheid die meeste van die top-Bokke wees, maar aan die ander kant sal die Bokke ook nie die Wallabies onderskat nie.

Eddie Jones neem ná jare weer die leisels en hy weet hoe om met sy teenstanders, wat die Bokke insluit, se koppe te smokkel.

Maar die Wallabies het ʼn baie swak vertoningslys in Suid-Afrika: van die 47 toetse wat hulle hier gespeel het, was hulle nog net 10 keer aan die wenkant en die Bokke 36 keer (met een toets gelykop).

Sedert die eerste Drienasiestoets in 1996 gespeel is, kon die Wallabies in ses toetse ook nog nie op Loftus Versfeld wen nie.

Die Springbokgroep vir die Wêreldbekertoernooi (tensy daar beserings is) sal na alle waarskynlikheid reeds voor die Rugbykampioenskappe in Erasmus en Nienaber se agterkoppe wees.

Ja, daar sal ʼn vergrote groep in die Rugbykampioenskappe speel en daar is dus ʼn paar plekke op die spel, want net 33 spelers gaan saam Frankryk toe.

Maar die heel belangrikste is om te probeer wen, om momentum te bou en nie om tweede viool te speel nie.

Dus hoekom die Bokke nie sal slaplê in die Rugbykampioenskappe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Sterkte, hoop en vertrou hul kan die knoop deurhaak, mag die beste speler in possisie gekies word en hul moet nederig bly en net hul beste lewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.