Rugbykuier onthou verdwaalde vliegtuig

Peet Pelser, Mike van Niekerk en Michael van Rensburg by die reünie van Oos-Vrystaat-spelers. (Foto: Heinrich Schulze)

Die sage van ʼn verdwaalde vliegtuig is een van die herinneringe wat opgediep is toe spelers en administrateurs van die gewese Oos-Vrystaatse Rugbyunie Saterdag ʼn reünie op Bethlehem gehou het.

Dis reeds 23 jaar sedert die bond sy selfstandige status verloor het, maar die manne se gees is nog lank nie geblus nie.

Heinrich Schulze, die rugbyhistorikus, laat weet dat daar steeds ʼn baie sterk groepsgees bestaan, en dat dit al hul derde reünie sedert 1997 was.

Die bond is in 1968 gestig, en sou dus vanjaar 50 jaar oud gewees het. Dit is saam met sewe ander bonde aan die einde van 1995 gesluit. Oos-Vrystaat het twee jaar daarna nog nie-amptelik meegeding, en het in 1997 finaal ophou funksioneer.

Schulze berig daar was 130 reüniegangers. Sewentig van hulle was spelers.

Twee lede wat in 1968 op die stigtingsvergadering was, Mike van Niekerk (wat vir Noord-Transvaal gespeel het) en Charlie Meyer, leef nog, en was Saterdag op hul pos.

Elsabe van Tonder, met 27 jaar diens as sekretaresse, het ʼn opsomming van die unie se geskiedenis en hoogte- en laagtepunte voorgelees.

Haar man, Thys van Tonder, die heel eerste sekretaris en later ook keurder, met 25 jaar diens, het ʼn Onthou jy nog?-sessie ingelei, en talle spelers het van hul herinneringe gedeel – insluitende die voorval in 1984 toe ʼn ligte vliegtuig verdwaal het wat sewe Oos-spelers, ná ʼn wedstryd teen Grens, van Oos-Londen na Bethlehem vervoer het. Dit moes op die ou end laat die nag op Matatiele land, met behulp van motorligte wat die vliegveld verlig het.

Die ouer generasie Oos-spelers was veral goed verteenwoordig. Behalwe Van Niekerk, wat saam met wyle Schalk van Dyk die eerste twee afrigters was, het ook die heel eerste kaptein, Peet Pelser, en Michael van Rensburg (die kaptein van 1970 tot 1972, en van die Oos-span wat in 1971 die Paul Roos-trofee verower het) saamgekuier.

Die flank Giep Jordaan (1969 tot 1972: 13 wedstryde) en die haker John Mentz (1969 tot 1974: 32 wedstryde), wat vir Petrus Steyn gespeel het toe hulle die eerste keer vir Oos-Vrystaat gekies is. (Foto: Heinrich Schulze)

Nóg gewese kapteins by die reünie het Dawie Fourie (kaptein van 1969 tot 1972, en wat in ʼn stadium die rekord van 45 wedstryde vir die bond gehou het), Taaibos Human (kaptein in 1975) en Ben du Toit, voorheen van Verre Noord (en kaptein van Oos in 47 van sy 48 wedstryde van 1979 tot 1983).

Ander bekende spelers wat teenwoordig was, was Tienie Greyling (die meeste wedstryde vir Oos met 171), die losskakel Japie van Wyk (die meeste punte vir Oos: 1 768), die flank, Billy de Jongh (54 wedstryde), die skrumskakel Kosie Venter (60 wedstryde, en wat ook vir Noord-Transvaal en Vrystaat gespeel het), die heelagter Ebert Kleinhans (43 wedstryde) en die senterbroers Deodat (34) en Sarel Kritzinger (7).

Van die jonger (en selfs ouer) spelers, het tot vroeg die volgende oggend gekuier en herinneringe gedeel.

Schulze sê verskeie internasionale spanne het tydens die bond se bestaan op Bethlehem se Goblepark gespeel: die All Blacks in 1970 (teen ʼn gekombineerde vyftiental van die Paul Roos-bonde), Argentinië (1971); Llanelli (1972); Suid-Amerika (1982) en Chili (1983).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wicus ·

Goeie herinneringe! Vir die All Blacks het ons ‘Now is the hour’ en ‘My Sarie Marais’ gesing. Phill Benett van Llanelli het ons vermaak met kronkel lopies en met Bhm Dorp teen Oud-skoliere was daar min oop sitplek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.