Rugbyreeks soos IPL in wording na ‘swart dag vir die ARU’ 

Die Force gaan nie die ander wang draai nie. Die beplanning het reeds begin om die nuwe Indo-Stille Oseaan-rugbyreeks, soortgelyk aan die IPL-krieketreeks, te loods.

Dit volg nadat die Superrugby-mat onder hulle uitgeruk is.

Die hooggeregshof van Nieu-Suid-Wallis het Dinsdag die appél van die Force van die hand gewys en sodoende die Australiese Rugbyunie (ARU) se besluit bekragtig dat die Wes-Australiërs nie meer Superrugby sal speel nie.

Die Force loop dus dieselfde paadjie as die Cheetahs en Southern Kings, wat ook hul Superstatus moes prysgee. Die Cheetahs en Kings het darem ‘n reddingsboei gekry en ding mee in die Pro14-reeks in Europa.

Volgens Andrew Forrest, die magnaat wat die Force finansieel onderskryf, gaan hy geen gras onder sy voete laat groei nie om te verseker dat die Force sal voortbestaan.

Forrest het aan die Sydney Morning Herald gesê dis ʼn swart dag vir die ARU, maar ʼn heuglike dag vir Australiese rugby.

Hy wil sy planne van stapel stuur met ʼn internasionale wedstryd wat hy “vinniger kan reël as wat die ARU dit ooit kan doen”.

Die ARU is volgens die Sanzaar-ooreenkoms verplig om spanne aan die Superreeks te verskaf, maar Forrest meen dat dié ooreenkoms tot ʼn einde kan kom wanneer die uitsaaikontrak in 2020 verstryk.

“Ons het met die direkteure van die ARU gesels en hulle sal iemand ondersteun wat die nodige stukrag kan verskaf om rugby in die Indo-Stille Oseaan-streek te laat groei. Dis waar die wêreld se ekonomiese groei lê,” het Forrest gesê.

Die Force se afrigter, Dave Wessels, is ten gunste van Forrest se planne, hoewel hy sekerlik geen ander keuse het nie.

“Ek voorsien dat dit die IPL van rugby kan word. Hy (Forrest) het die intellek en kapitaal en hy kan dit ʼn werklikheid maak,” het Wessels gesê.

♦ Lande wat deel van die Indo-Stille Oseaan-streek is, sluit onder meer Australië, Nieu-Seeland, Japan, Rusland, Fidji, Samoa, Tonga, Kanada, Singapoer, die Cook-eilande en China in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Indien die plan slaag,kan dit die einde van Superrugby beteken.

Frans C ·

Nico K
Die NZ spanne asook baie Europese spanne wemel van die Suid See eilande se spelers,dus
speel hul daar waar hul geld kan maak,in Europa,NZ en Australia.

AS die ou in sy doel slaag sal hul waarskynlik in Australiese dollars betaal word.Een Australiese dollar is op die oomblik van skrywe R10,32 werd.Dit is amper gelykstaande aan die Kanadese dollar (0,99)Dit verhandel tans teen 86.88 Japanese Yen,en teen USD
teen 0.88.Die Fijiane sal ook beter daar aan toe wees teen 1.60 teen die Australiese dollar
tans.

Daar is lank al sprake dat NZ en Australia waar die Superreekse begin het, wil wegbreek weens die groot afstande en tydverskille .Die Super 6 is in 1986 al gespeel en Suid Afrika het maar heel wat later begin deelneem toe dit uitgebrei is na die Super 10.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.