Rugbyspelers het ook voete van klei

Vusi Kama (Foto: Facebook)

Vusi Kama (Foto: Facebook)

Rugbyspelers, en ander belangrike sportlui, is sedert ons kinderjare voorgehou as rolmodelle, as mense na wie jy opsien, wat nie aan die verkeerde kant van die spoor beland nie, wat nie misdrywe pleeg nie.

Dalk was dit nie so nie, dalk is dit ‘n valse beeld wat die jongspan oor hul helde geskep het, want wie wil nou iemand met voete van klei as sy held hê?

Al wat ek weet, is dat daar op `n gedempte toon oor Daantjie van den Heever, `n gewese Noord-Transvaalse kaptein, se betrokkenheid by `n destydse bankroof gesels is. Van den Heever is sewe jaar tronkstraf opgelê en sy loopbaan was aan skerwe.

Dink ook maar terug aan die opslae wat Suid-Afrika se destydse krieketkaptein Hansie Cronjé se bekentenis oor wedstrydknoeiery op die krieketveld gemaak het. Die land was in twee geskeur, die een helfte het gesê sy lewenslange skorsing uit krieket is reg, die ander helfte het gesê, ja maar …

Dink maar Oscar Pistorius. Jare lank word ons vasgevang in `n maalkolk van sensasie. Die hele land, wat voorheen nog nooit van hulle gehoor het nie, ken nou vir June en Barry Steekamp (wyle Reeva se ouers), oom Arnold Pistorius. Ons weet waar hulle woon, ons weet hoe lyk Oscar se tronksel van binne.

Dis hoekom dit `n skok was toe Vusi Kama (50) Vrydag tot tronkstraf van vyf jaar gevonnis is vir erge belastingontduiking. Kama het darem nie vir die Springbokke gespeel nie, maar hy was die Bokke se mediawoordvoerder onder Jake White.

Rugbyspelers is oor die algemeen minder op die voorblaaie (nie oor hul rugbyprestasies nie), maar oor hul ander manewales. Die lys van boksers, sokkerspelers, renjaers, Amerikaanse voetbalspelers is ellelank, rugbyspelers se skades en skandes, is net soos van hulle se lonte, maar kort.

Die mees prominente gevalle op die internasionale front is dié van Tony Neary, wat in 1974 saam met die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika getoer het, en `n gewese Franse kaptein Marc Cecillon, wat in 1995 in die Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika gespeel het.

Neary,  `n flank wat 43 toetse vir Engeland gespeel het, het in 1998 geld uit sy vriend se trustrekening verduister. Hy was `n paar jaar in die tronk en ná sy ontslag het hy gesê hy kyk nie meer rugby nie.

Cecillon, wat 46 toese vir die Hane flank en agtsteman gespeel het, het in 2004 sy vrou doodgeskiet. Hy is aanvanklik tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, wat later tot 14 jaar verminder is. Hy is `n paar jaar gelede op parool vrygelaat.

In Suid-Afrika het spelers soos Joseph Ntshongwana, Bees Roux, Leon van der Watt en Paul Botes ook om verkeerde redes die hoofnuus gehaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adam ·

Noem bietjie die name van die onlangse krieket knoeiery ook en nie net Hansie sn nie

Nico K ·

Ek dink mens kan nog name by die lys voeg. Maar dit is ons eie skuld. Ons maak die mense asof hulle wonderlik is. Net omdat jy ‘n goeie rugbyspeler, filmster of sanger is maak jou nie ‘n wonderlike mens nie. Ek het maar nog enkele bekende rugbyspelers ontmoet en min van hulle het my beïndruk as mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.