Rugbyspelers kort rus, en sommer baie ook

Die gewese Springbokafrigter Nick Mallett het die sentrale kontraktering van spelers al byna 20 jaar gelede bepleit, maar die Suid-Afrikaanse rugbybase wou nie luister nie.

Springbokrugby sou baie baat gevind het as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, in samewerking met die nasionale afrigter(s) (en nou ook die direkteur van rugby), die hef in die hande gehad het oor die kontraktering van die topspelers en hul welvaart. Ek praat nou nie net van twee of drie van die spelers nie, maar van die top-30.

Waar lê die Springbokke op Wêreldrugby se ranglys?

Sesde! (Hulle is maandag weer afgeskuif.)

Die All Blacks het sentrale kontraktering jare gelede al ingestel. In sameweking met die nasionale afrigter(s) kry die topspelers genoeg ruskans. Hulle word deur Nieu-Seelandse rugbybase (en die Superrugby-franchise’e) reg bestuur, wat aanbeveel hoeveel weke die spelers moet rus en vir wie, wanneer en waar hulle moet/mag  speel. Van die voorste All Blacks wat verlede jaar in Junie in die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het, het nog nie hul verskyning in vanjaar se Superreeks gemaak nie.

As sprekende voorbeeld: Die Crusaders is in die moeilikheid, en hulle kort dringend versterkings vir die Superreeks. Maar aikona, sê Nieu-Seeland Rugby, die groter prentjie is belangriker.

Waar lê Nieu-Seeland op Wêreldrugby se ranglys?

Eerste!

Die Ierse Rugbyunie het ʼn paar seisoene ook die bul by die horings gepak en op sentrale kontraktering besluit. Die Ierse Rugbyunie, en nie die klubs nie, dra die grootste gedeelte van hul topspelers soos Johnny Sexton, Conor Murray en CJ Stander se salarisse by. Húlle besluit wanneer, waar en hoeveel die spelers moet rus.

Waar lê die Iere op Wêreldrugby se ranglys?

Tweede!

Engeland pas dit nog nie toe nie, want die klubs trek die toutjies. Hulle betaal immers die spelers se salarisse.

Maar die spelers is voos gespeel. Owen Farrell het byna twee keer soveel vir Saracens as Johnny Sexton vir Leinster gespeel. Maro Itoje is poegaai, en so ook ʼn hele paar ander spelers.

En waar lê Engeland op die wêreldranglys?

Derde … en hulle is op pad na nêrens.

Al hoe die probleem opgelos kan word, is om die topspelers ʼn behoorlike ruskans te gee.

Dis hoekom die Engelse afrigter Eddie Jones (die Walliese afrigter Warren Gatland het reeds geskimp dat dit gaan gebeur) nie van sy voorste spelers vir die toer in Junie na Suid-Afrika sal kan oorweeg nie.

Suid-Afrika moes dié les darem al die afgelope 20 jaar geleer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Sal nie hier gebeur nie,want elke afrigter,klub ens eis sy pond vleis.Die laaste groep wedstryd is op 14 Julie.Die uitspeel wedstryde op 21 Julie,semi-finale op 28 Julie en finaal op 4 Augustus.
Tussen in kom die Engelse kuier met die eerste toets op 9 Junie, Ellis Park,Vrystaat 16 Junie en Kaapstad 23 Junie. Iewers moet die Curriebeker ingepas word,Op 18 Augustus
begin die rugby kampioenskap met SA vs Argentina in Durban.

Dit is duidelik dat erêns langs die pad ‘n hele paar Springbokke en ander aanspraakmakers gaan ingee, want die ligaam is nie ontwerp om soveel stampe in stote
namekaar te verduur nie.

Avokado ·

Dit sal net gedoen kan word as provinsialisme mee weggedoen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.