Rugbyspelers red visse vir spanbou en stamina

Dit het selde so rustig gegaan. (Foto: Rich Verster)

Dit het selde so rustig gegaan. (Foto: Rich Verster)

Moenie lag as Vryheid se rugbyspelers vertel hulle vang vis om fiks te word nie – hulle verwys allermins na hengel!

In seker een van die oorspronklikste, en waarskynlik doeltreffendste maniere om span- en stamina te bou, het die klub se spelers Saterdag oor `n duisend bedreigde visse gevang en hervestig.

Toe die klub se hoofafrigter, Rich Verster, die verwoesting sien wat die droogte op `n buurman, Stefan Kotzé, se plaas by Scheepersnek aanrig, veral die duisende visvrektes by `n dam wat aan `t opdroog was, het hy op die gedagte gekom om die klub se jaarlikse spanbougeleentheid vir `n stukkie gemeenskapsdiens in te span.

`n Ander dam sowat 400 m verder het nog voldoende water en daar is besluit om soveel moontlik visse uit die leë dam daarheen te verskuif.

Verster, `n gewese Superrugby-haker van die Cats, sê die 25 stuks spelers is in vier spanne verdeel wat 400 m ver deur sagte modder moes hardloop, deur modderige versperrings moes luiperdkruip, die visse met nette en die hand vang, `n sak vul en dan nog 400 m hardloop om die visse weer in die water te kry.

“Die spelers moes hulself tot die uiterste inspan om hul doel te bereik. Nadat hulle in die dam gespring het, moes hulle 100 m swem om die visse vry te laat en sukkelende visse te help herstel.”

Kamp Staalbaard, het die manne geskerts.

Verster sê die reddingspoging het bykans drie uur geduur en 1 067 visse is só gered.

Daarna het die klublede in die natuur ontspan, aan `n spitgebraaide vark gesmul en onder die sterre geslaap.

“Ek is hoogs tevrede met die klub se groei,” sê Verster. “Ek is opgewonde oor die klub se toekoms as ek al die nuwe gesigte en die toewyding op die gesigte van die ouer spelers sien.”

♦ Vryheid was verlede seisoen die enigste klub wat Highlanders van Newcastle in die Noord-Natalse liga se rondomtalie kon klop, en het uiteindelik 26-31 teen hulle (die Highlanders) in die eindstryd van die subunie se liga verloor.

Met Highlanders wat vanjaar in die Kwa-Zulu-Natalse Premierliga speel, is Vryheid gewis die gunsteling om die Noord-Natalse liga te wen en behoort ook `n goeie kans te staan om die Dewarskild te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.