Rugbyster op herstelpad ná ernstige besering

Michael Fatialofa word per draagbaar van die veld gedra. Foto: Worcester Warriors/Twitter.

Die Nieu-Seelandse rugbyster Michael Fatialofa kan binnekort uit die intensiewesorgeenheid  van St Mary’s Hospital in Londen ontslaan word ná hy ’n ernstige nekbesering vroeër vandeesmaand opgedoen het.

Die 27-jarige voormalige slot van die Hurricanes het vir die Worcester Warriors teen Saracens op 4 Januarie in die Engelse Premierliga gespeel en hy is binne ’n minuut van sy verskyning op die veld as plaasvervanger op ’n draagbaar van die veld gedra.

Die foto-inskrywing wat sy vrou, Tatiana, op sosiale media gemaak het. Foto: Twitter.

Volgens die gewese WP-rugbyman en die huidige direkteur van rugby by Worcester, Alan Solomons, het dit gelyk asof Fatialofa met sy kop eerste teen ’n Saracens-verdediger vasgehardloop het.

Ná amper drie weke in die hoësorgeenheid, vertel Fatialofa se vrou Tatiana, dat haar man beslis op die herstelpad is.

“Sy vermoë om te beweeg en asem te haal is beslis beter. Michael oortref alle verwagtinge van die medici en, met volgehou gebed, kan hy binnekort uit die hoësorgeenheid ontslaan word,” het sy op Twitter geskryf.

Dinsdagaand het Fatialofa ook vir die eerste keer in twee weke self probeer eet.

“Ons is só geseënd. Die Here is altyd goed, selfs wanneer die lewe nie is nie.”

Solomons het op sy beurt die goeie herstelpad-nuus beaam.

“Die terugvoer wat ek kry, is baie positief. Hy kan ’n bietjie meer beweeg en ek is vol vertroue dat hy ten volle sal herstel,” het Solomons gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.