Rugbytoere van weleer kan dalk hervat word

rugbypale

Argieffoto

Die rugbylandskap kan onherkenbaar verander wanneer die staat van inperking wêreldwyd opgehef en die onderskeie reekse hervat word.

Soos sake nou staan, kan die Super- en Pro14- reekse, waaraan Suid-Afrikaanse spanne deelneem, in die slag bly, die toetse in Junie en Julie teen Georgië en Skotland asook die Rugbykampioenskap wat later moet plaasvind.

Die geldkrane gaan opdroog, borgskappe gaan al hoe minder word en rojale kontrakte wat daar van skoolvlak af uitgedeel word, sal al hoe minder word.

Daar word ook al hoe meer bespiegel dat die Suid-Afrikaanse rugbybase hul heil in die Noordelike Halfrond gaan soek om in ʼn vergrote Sesnasies-reeks te speel.

Maar vir dit om te gebeur sal Suid-Afrika na alle waarskynlikheid sy bande met Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, moet breek.

Die Nieu-Seelanders sal nie daarvoor te vinde wees nie en die bankrot Australiërs sal ook nie boedel oorgee nie, want dan word die gans wat die goue eiers sedert 1996 gelê het, nek omgedraai.

Dit kan die deure vir toere oopmaak, nie ellelange toere soos in die verlede nie, maar ʼn reeks van drie toetswedstryde teen die All Blacks, Wallabies of Poemas in Junie en Julie en vyf of selfs meer wedstryde teen die huidige Superrugbyspanne, ʼn gekombineerde span van die Cheetahs en Southern Kings, die Suid-Afrikaanse A-span (die ou Junior Springbokke) asook ʼn nasionale Universiteitespan, wat ná die Varsitybeker-reeks gekies kan word.

Ai, hoe smag ons nie na behoorlike toere nie, na wedstryde wat in kleiner dorpe soos Bethlehem, Upington, Wellington, George en Potchefstroom gespeel word, na sierwaens en optogte deur die strate, spelers wat skole en hospitale besoek (nie net ʼn fotogeleentheid vir die media nie), na spelerskaartjies agterop sigaretboksies, na onthale ná die wedstryde waar die tuisgemaakte frikkadelle, worsrolletjies, gevulde eiers, hoenderpastei, tong met ʼn mosterdsous, ander koue vleise en smaaklike vars toebroodjies die tafels laat kreun het terwyl Leon Schuster se liedjies in die agtergrond gespeel is.

Na oop oefeninge, ʼn Springboktrui sonder logo’s, ná Gerhard Viviers se radiokommentaar, uithaalfoto’s in die Huisgenoot (die destydse Brandwag en Farmer’s Weekly), na die skinderstories wanneer ʼn oorsese speler die kat in die donker geknyp het, na spelers, kapteins en afrigters wat eerlik op vrae antwoord en die skeidsregters mag kritiseer.

Daardie dae is verby, dis blote drome, hoewel niemand sal kla oor korter toere nie, soos volgende jaar se Britse en Ierse Leeus nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Ek stem. Laat NZ en Australie maar saam met die Japenese en Fidji en Samoa speel. Hulle word ryk van ons geld maar behandel ons spelers soos muishonge. Laat ons in die Noorde gaan speel. Dit is ook ons tydsone.

Carel Johannes ·

Een ding staan soos ‘n paal bo water, vandag se rugby is nie meer dieselfde as toe die hardebaard manne van die veertigs, vyftigs en sestigs dit gespeel het nie. Toe was dit jou trots om n Springbok te kon wees en jou land te verteenwoordig. Van die manne het 2 maal per week vanaf Rustenburg per fiets Pretoria toe gery om te kom oefen.

Michael 1 ·

Ek dink rugby is besig om dood te gaan in SA en sal soos swaargewig boks in die VSA binnekort net n gedagte wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.