Rugbywêreldbeker: SA’ner vertel van Japan-belewenis

Die uitsig vanaf jou pawiljoensitplek in Jokohama. Foto: Verskaf.

As die stadions in Tokio, Jokohama en Kobe só indrukwekkend op die televisie lyk, hoe hoendervleis-lekker moet dit nie wees om die gelaaide wedstryd-atmosfeer eerstehands vanuit jou pawiljoensitplek te ervaar nie? Veral wanneer jy die Bokke in die half- én eindstryd kan sien speel!

Junior van Niekerk gaan Saterdag sy Springboktrui met trots in Japan dra wanneer Siya Kolisi se span in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Engeland speel.

“Om in Japan te wees, is definitief iets wat ek van my emmerskop-lysie (bucket list) kan afmerk. Om dinge sagkens te stel, dit is absoluut ’n massiewe ervaring om tans in die land te wees,” het Van Niekerk gesê.

Hy het onder andere ook die Bokke se halfeindstryd-kragmeting teen Wallis in Jokohama gekyk, terwyl hy ook die aksiebelaaide All Blacks/Engeland-tweestryd van sy pawiljoensitplek af dopgehou het.

“Die Japanse inwoners is pynlik netjies – alles is op hul plekke – terwyl hulle ongelooflike respek vir mekaar, sowel as vir toeriste het. Hul dissipline – selfs met die kleinste takie – is iets om te bewonder.”

Maar hoe is die atmosfeer in daardie stadions?

“Dit is ’n epiese ervaring. Die trane rol sommer van ’n mens se wange, al skree jy nie eens vir een van twee spanne wat teen mekaar speel nie. Jy raak eintlik emosioneel van die rugby-lekkerte en die toeskouers se passie vir die spel.”

Junior van Niekerk. Foto: Verskaf.

Van Niekerk het die Bokke en die Engelse in Japan sien speel en is van mening dat die Suid-Afrikaners komende Saterdag hul derde Wêreldbeker-trofee omhoog kan hou.

“As jy die Springbokke se liggaamstaal dophou terwyl hulle op die veld is, speel hulle beslis met selfvertroue en ek dink hulle staan ’n goeie kans om Saterdag vir Engeland te klop.”

Hy vertel egter dat die Bok-ondersteuners in Japan ook gefrustreerd raak met Faf de Klerk en kie se skoptaktiek.

“Ja, die ouens hier raak lekker warm onder die kraag daaroor,” sê hy met ’n laggie in sy stem.

“Maar tot op hede werk die skoppe, want ons wen wedstryde,” voeg hy by.

Hoe gaan hy fees vier as die Bokke Saterdag met die louere sou wegstap?

“As die Bokke wen, gaan ek brááí. Ek gaan sommer ’n braaier iewers probeer koop, want ek is rêrig lus om te braai!”

Die spul Bok-ondersteuners in Japan sal hoop dat Van Niekerk se braai-droom bewaarheid word: Braaivleis is immers baie smaakliker as soesji; of dan Engelse vis en skyfies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Devil ·

Die manne wil braai maar waar gaan hulle sulke lekker skaapvleis kry as wat ons hier het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.