Ruhan sluit hom (dalk) aan by die Bok-grotes

Ruan Nel op die aanval vir die Blitsbokke (Foto Facebook – Neville Vander Walt)

Ruhan wie? Dit was sekerlik baie van die leuenstoel-kritici se vraag oor die nuweling wat Rassie Erasmus Sondag by die Springbokgroep vir die laaste twee toetse in die Rugbykampioenskap gevoeg het.

Die Blitsbok Ruhan Nel het die afgelope weke vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks uitgeblink. Hy sluit met heelwat ervaring van vyftienmanrugby by die Bokke aan nadat hy sedert 2014 in 135 wedstryde vir die Blitsbokke gespeel het.

Die 27-jarige senter het in 2012 reeds vir die Goue Leeus gespeel, in 2015 ʼn draai by Griekwas gemaak en speel die afgelope twee seisoene by die WP. Groot (101 kg, 1,95m) met die vaardigheid en die rotsvaste verdediging wat jy van een van die wêreld se voorste sewesspelers verwag, is dit ʼn raakvat van Erasmus se kant.

♦  As Nel speelkans in die toetse sou kry, sal hy hom aansluit by spelers soos ondermeer André Joubert, Joost van der Westhuizen, André Venter, Bryan Habana, Jean de Villiers, Bobby Skinstad, Dick Muir en Jacques Olivier wat vir die Blitsbokke gespeel het voordat hulle hul toetsbuigings gemaak het. Cheslin Kolbe en Lionel Mapoe van die huidige Bokke val ook in hierdie groep.

Daar is natuurlik nog vele ander en ook tientalle Bokke wat ná hul eerste toetsrugby later ook vir die Blitsbokke gespeel het.

♦  Die twee senters in die wentoets teen die All Blacks, Damian de Allende en Lukhanyo Am, is albei beseer en en ook Jan Serfontein, wat tans vir Montpellier speel.

Met Nel se insluiting in die groep het Erasmus die opsie om Jesse Kriel op vleuel te hou waar hy verlede naweek sy man teen die All Blacks se hoogsbetaalde speler, Rieko Ioane, gestaan het.

♦  Erasmus het ook oor die naweek die dienste van Willie le Roux vir die laaste twee toetse verseker en vir Vincent Koch, vaskop van Saracens in Engeland, ook nadergetrek. Sy insluiting het Thomas du Toit van die Sharks sy plek in die groep van 30 spelers gekos.

Die jong S’bu Nkosi, wat in die drie toetse teen Engeland gespeel het maar toe weens ʼn enkelbesering nie oorweeg kon word nie, is weer fiks en terug in die Bokke se groep. Die Bulls het nou twee skrumskakels in die groep met Ivan van Zyl wat saam met sy provinsiale spanmaat Embrose Papier tussen die uitverkorenes is.

Met die twee beseerde senters het Erasmus ook weer vir Mapoe by die oefengroepe ingesluit. Hy het in die verloortoets in Mendoza as plaasvervanger twee (baie maklike) drieë teen die Poemas gedruk. Hy het sedertdien vir die Goue Leeus beïndruk en is waarskynlik ook weens sy ervaring by die groep ingesluit vir moontlike oorweging as buitesenter.

Ross Cronjé van die Goue Leeus is uit die groep weggelaat. Hy was in die 23-tal in die wentoets teen die All Blacks maar het nie speelkans gekry nie.

Die Springbokgroep ‒

Agterspelers
Faf de Klerk, Aphiwe Dyantyi, André Esterhuizen, Elton Jantjies, Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Lionel Mapoe, Ruhan Nel, S’bu Nkosi, Embrose Papier, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Damian Willemse.
Voorspelers
Schalk Brits, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Siya Kolisi (kaptein), Wilco Louw, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Franco Mostert, Beast Mtawarira, Sikhumbuzo Notshe, RG Snyman, Marco van Staden, Warren Whiteley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LHS ·

Wil Erasmus nie nou maar asb. die hele WP span optrek en klaarkry nie. Stuur die paar Leeu spelers met ingeslote Soois de Bruin terug. Hy sal eerder spelers trek wat min tot geen 15 man rugby gespeel het of spelers uit posisie speel maar hy weier om mense soos Ruan Combrick te gaan haal. Ruhan J v Rensburg, Kwagga Smit, en die hele voorry van die Leeus. Verduidelik hoe skrum die Leeus in die super reeks alle spanne stukkend, ingeslote die meeste van die wat nou by die bok groep is, maar hulle word nie gekies nie. Die probleem is dat die afrigter nie keurder en afrigter moet wees nie.

PG ·

LHS – ek stem volkome saam jou , dis n skande dat ouens soos Kwagga nie n speel kans kry nie – en soos jy noem ,Combrink en R van Rensburg hoort in die span
die Stormers het glad nie n goeie super rugby jaar beleef nie – maar sit met die meeste speelers in die Bok span.

Peta ·

Stem ook saam,Ruan,Ruhan,Kwagga en Kriel is uitstekende spelers.Dit is n groot fout om hulle nie te kies nie,veral met volgende jaar se Wereldbeker wat wag.

Schalk ·

Klink my SA het teveel afrigters. Ek dink Nel is n aanwins vir die span. Maak nie saak vir watter span hy speel nie. Hy verdedig die beste en sy aanval is kookwater. Na wat Rassie verrig het! En jul kerm nogsteeds! Nee hel man. Ja Kwagga is n yster. Maar ek verneem hys nog nie 100% spel gereed nie. En Ruan kort bietjie vorm die laaste tyd. Herold Voster speel ook warm rugby. So kan ons aangaan. Maar gee Nel n kans.

Peta ·

Schalk,jy klink vir my ook na een van daai afrigters.Om die All Blacks op hulle tuisveld te wen was verseker n groot prestasie.Ek hoop ook ons kan weer in PE en op Loftus wen.Dit lyk net of Rassie sekere Leeus spelers wat dit wel verdien nie eers in sy groep van 30 gekies het nie.

Niklaas ·

Soos hier bo versoek is….gee Ruhan Nel n kans. Dalks is hy n reuse aanwins vir die spel. Ek het met 7 s rugby wel gesien dat hy puik verdedig. En ek kan dit gladnie sê van Combrink nie ! Wat pla van Bokspan is dat gehele Stormers agtal plus stut reserwes opgeneem is . Is die res van die land se voor spelers dan so swak ? Ons sal maar sien hoe vaar Bokspan teen Aus en NZ hier op plaaslike bodem , kan kan almal weer saampraat.

Schalk ·

Dankie Niklaas.
Ek dink ook daars dalk teveel stormers. Aan die einde van die dag wil ons WEN rugby sien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.