Ruimte vir verbetering, maar al Lions se uitspeelwedstryde is tuis

Kwagga Smith was oral by (Foto: GB Jordaan)

Die Lions het die Sharks Saterdagmiddag met 27-10 geklop en sal al drie sy uitspeelwedstryde op Ellispark speel, mits hy natuurlik die kwart- én halfeindeonde wen.

Die Lions het met die oorwinning die voorste span in die Superreeks geword deur Crusaders, ná dié se neerlaag Saterdagoggend, op die saamgestelde punteleer verby te steek.

Die Sharks het agste geëindig, en speel dus aanstaande Saterdag (14:30) weer teen die Lions.

Die wedstryd op Kingspark was nie die Lions se beste nie. Die kenmerkende ritme was nie daar nie en daar was te veel geleenthede wat deur swak opsies en hanteerwerk verlore gegaan het.

Boonop was Elton Jantjies se skopkorrel die eerste keer vanjaar nie reg ingestel nie.

Daar is geen twyfel dat Johan Ackermann-hulle die week hard sal skaaf om foute en ook dinge soos drie verbroude lynstane en die sowat 25% van die 64 duikslae wat gemis is, uit te skakel of minstens te verminder nie.

Die twee uitblinkers voorlangs was die Lions se kaptein Jaco Kriel en veral Kwagga Smith.

Hierdie Blitsbok het by die afbreekpunte besit omgekeer dat dit vir die KwaZulu-Natallers ʼn nagmerrie was. Met Ruan Ackermann wat weer goed gedra het, was die tuisspan se lostrio kwalik in die prentjie.

Die tuisspan het met kwalik ʼn derde van die besit en minder as 30% gebiedsvoordeel min kans gekry om hulle slag te toon, en Garth April was duidelik heelwat onder sy beste as losskakel. Die gevolg is dat min van die Sharks se driekwarte gesien is.

Tog was die Sharks in  die eerste helfte uiters mededingend totdat die Lions mekaar begin vind het.

In die geheel het die Lions in elke opsig oorheers en sal hulle met ʼn groot sielkundige voordeel in die kwarteindronde teen die einste Sharks op Ellispark opdraf.

Aanstaande naweek se kwarteindstryde –

Vrydag
11:45 – Brumbies vs Hurricanes

Saterdag
09:35 – Crusaders vs Highlanders
14:30 – Lions vs Sharks
17:00 – Stormers vs Chiefs

Puntemakers –

Sharks (10) 10: Drie: Kobus van Wyk. Doelskop: Garth April. Strafdoel: April.
Lions (13) 27: Drieë: Malcom Marx, Andries Coetzee, Jaco Kriel. Strafdoele: Elton Jantjies 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua Keys ·

Hantering, hantering , hantering!!!!!!! Hoop ek die week, is op Johan en Swys se lysie. Bietjie raad en ek hoop die boodskap kom by julle uit, Johan en Swys skuif asb vir Kwagga na agtsteman en jou seun terug op regter vlank. Kwagga moet Warren se rol oorneem as agtsteman hy is kort en kan die bal vinnigger agter skoonmaak hy het die spoed, krag en goeie aftrap om die ouens op die voorvoet te kry wat ons teen Die Hurricanes nodig gaan kry, Johan en Jaco is nodig om die skrum vir die verdedigging en om die gapings oop te maak om die ouens oor die voordeel lyn te kry of stuit. As die Lions Saterdag die Sharks klop, is Barret die volgende probleem en moet so vinnig moontlik onder druk geplaas word en verhoed word om sy lyn weg te kry asook die steek skoppies oor die agterlyn te verhoed daarom is Kwagga die antwoord op agtsteman en kan reeds getoets word teen die Sharks, sal baie vinniger by die bal kan uitkom om die bal te steel kan ewe vinnig albe kante toe slaan, en ditis waarom Warren en Ross so goed saamspeel, ek dink Kwagga sal daai rol die beste vul, dit gaan die skrumwerk aan Dreyer se kant ook sterker maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.