Rus en vrede in die All Blacks-kamp

Dis darem baie maklik om ’n Nieu-Seelandse rugbykeurder te wees wanneer jy ’n All Blacks-span hoef te kies.

Die spelers maak dit vir jou baie maklik, want jou beste span het die Superrugbyreeks gewen en boonop kies jy suiwer op verdienste en op spelpeil.

Dis hoekom die All Blacks al jare lank die toon aangee, want daar is bestendigheid, kontinuïteit en geen inmengery of bepalende voorskrifte nie.

Dis hoekom daar algehele eenstemmigheid was toe die afrigter, Steve Hansen, Maandagoggend die All Blacks-groep van 33 spelers (wat tot 35 aangroei terwyl Sonny Williams en Dan Coles nog van hul beserings herstel) vir die komende Rugbykampioenskap aangewys het.

Daar is tien spelers van die Crusaders, wat Saterdag in Christchurch die Superrugbyreeks ’n negende keer gewen het, sewe elk van die Chiefs en Highlanders, ses van die Hurricanes en net drie van die Blues, wat die Nieu-Seelandse agterosse in die Superreeks was.

Daar is slegs ’n paar spelers wat hulle as effe ongelukkig kan beskou omdat hulle nie die paal gehaal het nie, soos die Crusaders-paar van George Bridge (vleuel) en Bryn Hall (skrumskakel), asook die stut Jeff Toomaga-Allen en die flank Vaea Fifita (albei Hurricanes). Die Crusaders-flank Matt Todd sou dalk ook die span gehaal het, maar hy het besluit om sy loopbaan in Japan voort te sit.

Wanneer jy vir die All Blacks wil speel, moet jy in Nieu-Seeland rugby speel, uit en gedaan.

Is die weglating van Bridge-hulle werklik ’n verrassing? Is Bridge beter as Waisake Naholo, Rieko Ioane of Nehe Milner-Skudder?

Moes Hall die jawoord bo Aaron Smith, TJ Perenara of Te Toiroa Tahuriorangi van die Chiefs gekry het?
Nee!

Die All Blacks speel aanstaande Saterdag teen die Wallabies in Sydney en trek van Donderdag af in Christchurch saam vir ’n oefenwedstryd van 40 minute teen Canterbury en Otago.

Die All Blacks-groep – 

Agterspelers

TJ Perenara, Aaron Smith, Te Toiroa Tahuriorangi, Beauden Barrett, Damian McKenzie, Richie Mo’unga, Ryan Crotty, Jack Goodhue, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams (plaasvervanger Ngani Laumape), Jordie Barrett, Rieko Ioane, Nehe Milner-Skudder, Waisake Naholo, Ben Smith.

Voorspelers

Dane Coles (plaasvervanger: Liam Coltman), Nathan Harris, Codie Taylor, Owen Franks, Joe Moody, Tim Perry, Karl Tu’inukuafe, Ofa Tuungafasi, Scott Barrett, Brodie Retallick, Sam Whitelock, Sam Cane, Shannon Frizell, Jackson Hemopo, Kieran Read (kaptein), Ardie Savea, Liam Squire, Luke Whitelock.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

bloues ·

My voorspelling is:
Die bokke gaan NET hul tuiswedstyde teen die Argentyne wen.

kas ·

Ja wat Neels so gaan dit maar.Nee die leeus het nie nodig om te kerm nie.Hulle het immers drie jaar agtereenvolgens in die finaaal gespeel.Dit is iets wat geen ander span kan se nie.Selfs die Jaguars was beter as ons ander spanne.Hoeveel nuwelinge is in die ALL BLACK span,nie een nie.Met elke reeks is daar nuwe springbokke My vraag aan jou Neels is;Kan jy ‘n kern vorm?

Smirre ·

‘Hulle het immers drie jaar agtereenvolgens in die finaa(a)l gespeel. Dit is iets wat geen ander span kan sê nie.’

Dit beteken niks as jy nie ‘n beker of 2 wen in daai 3 jaar nie.

Dan speel ek veel eerder in 3 finale oor 4 jaar en wen al 3 waarin ek speel.

kas ·

Die ALL BLACKS se spelers wat nie gekies word nie gooi nie die raskaart op die veld nie,want hulle speel vir hulle land en trots.Kyk maar wat gebeur as hulle daai swart truie aantrek,hulle saai verwoesting GO ALL BLACKS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.