RWB-blasertwis in hope vuil wasgoed verstrengel

Wat twee weke gelede as ʼn beswaar teen die optrede van ʼn skeidsregter in ʼn Wêreldbeker-aanspraakstryd begin het, het intussen soveel vuil wasgoed ontlok dat die uitspraak ʼn derde keer uitgestel is.

Sake het só handuit geruk dat die hele Europese aanspraakreeks in gedrang is. Daar is selfs sprake dat van die wedstryde oorgespeel kan word.

Die soveelste uitstel, onder meer om bykomende inligting in te win, volg op kruis en dwars beskuldigings oor onwettige spelers – en ja, klagtes dat spelers die betrokke skeidsregter beledig en aangerand het.

Die affêre het begin toe Rugby Europa (RE) ʼn Roemeense skeidsregter, Vlad Iordachescu, en twee Roemeense assistente vir die deurslaggewende wedstryd tussen Spanje en België aangestel het.

Spanje het Roemenië vroeër met 22-10 in die aanspraakreeks geklop, en ʼn allerweë verwagte sege oor die naasagteros, België, sou sy plek in die toernooi in Japan verseker het. Sou hy verloor, sou Roemenië die RWB-deelnemer wees.

Spanje het RE, waarvan die president, Octavian Morariu, eweneens ʼn Roemeen is, versoek om ander beamptes aan te stel, maar die versoek is geweier.

België se Swarte Duiwels skok toe jou werklikwaar en klop die Spaanse Leeus met 18-10 – en Roemenië se plek in Japan is bespreek.

Spanje het ʼn beskuldigende vinger na Iordachescu gewys, twee dae later ʼn klag teen hom by Wêreldrugby (WR), die internasionale beheerliggaam gelê, en gëeis dat die wedstryd oorgespeel word.

Wat die skeidsregter se vertoning betref, is daar intussen onder meer berig dat die wedstrydkommissaris Michel Arpaillange sy hantering van die wedstryd gekritiseer het; en dat WR se blasersbaas, Alain Roland, tot die slotsom gekom het dat Iordachescu se dae as toetsblaser getel is.

Die verwagting is egter dat WR ook streng teen verskeie Spaanse spelers vanweë molestering van die skeidsregter sal optree. Van hulle kan selfs die RWB-toernooi misloop, sou Spanje op die ou end wel daarvoor in aanmerking kom.

Nuwe herrie

ʼn Nuwe herrie het egter losgebars wat die internasionale rugbybase se kaarte op ʼn ongekende skaal deurmekaar gekrap het.

In ʼn onverwante geval het WR skaars vyf dae ná die kragmeting tussen Spanje en België die uitslag in ʼn ander aanspraakstryd, dié in Oseanië tussen Tahiti en die Cook-eilande, omgekeer omdat Tahiti onwettige spelers gebruik het.

Dis toe dat die beskuldigings oor onwettige spelers in Europa links en regs begin vlieg.

♦ Eers het die Duitse afrigter Pablo Lemoine in ʼn media-onderhoud aan die lig gebring dat Victor Paquet wat o.19-rugby vir Frankryk gespeel het, onwettig as plaasvervanger vir België teen Duitsland gespeel het. Hy is glo op grond van ʼn Belgiese oumagrootjie gekies, terwyl die reël in dié geval ʼn ouma vereis.

♦ Vervolgens het ʼn Russiese publikasie berig dat die Tongaan Sione Faka’osilea, wat in verskeie aanspraakstryde vir Roemenië gespeel het, nie daarop geregtig was nie omdat hy sewesrugby vir Tonga gespeel het. Die Russe dring sedertdien by WR en RE aan dat die wedstryd tussen Rusland en Roemenië se uitslag nietig verklaar word.

♦ Voorts word Spanje se gebruik van die Franse o.20-spelers Thibault Visensang, Mathieu Bélie en Bastian Fuster bevraagteken. Die terugwerkendheid of nie van ʼn gewysigde WR-reël is hier in gedrang.

Die enigste van die lande in die aanspraakreeks  wat nié in die beskuldigingsbank staan nie, is Rusland en Duitsland, met laasgenoemde wat in elk geval heeltemal uit sy diepte in die reeks was, en op wie ʼn promosie-relegasiestryd teen Portugal wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zetwee Hattingh ·

En Bryce Lawrenece in NZ se nuwe oorhoofse bestuurder van NZ skeidsregters sedert MAR 19de

Koos1 ·

En as ons kla dat ons geboor word deur sommige skeidsregters? Dan moet ons maar die hou op die ken vat en voorts gaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.