RWB-bod en Pro14 lei tot erge Saru-verlies

Jurie Roux – RWB-bod en Pro14-deelname duur. (Foto: Twitter)

Die mislukte bod om die Wêreldbeker in 2023 aan te bied, en die deelname van die Cheetahs en die Kings aan die Pro14 reeks, kry grootliks die skuld vir die groot velies wat die SA Rugbyunie in sy 2017-boekjaar gely het.

Luidens ʼn verklaring wat Saru in Kaapstad uitgereik het, toon die unie se finansiële state wat Vrydag 6 April by die jaarvergadering in Kaapstad ter tafel gelê sal word ʼn voorbelaste verlies van R33,3 miljoen.

In 2016 was die verlies net meer as R7 miljoen, en in 2015 het die Saru nog ʼn wins van R10,4 miljoen gemaak.

Jurie Roux, die hoof- uitvoerende beampte van Saru, sê in die verklaring buitengewone uitgawes het tot die groot verlies gelei, en hy wys veral die RWB-bod en die Pro14-betrokkenheid in dié opsig uit.

Hy sê die bod het Saru om en by R24,4 miljoen gekos, en die Pro14-deelname het hom R37 miljoen uit die sak gejaag.

Luidens die verklaring was die uitgawe noodsaaklik met die oog op die langtermynwelsyn van die spel in Suid-Afrika.

Roux sê dit was “strategies gebiedend”.

Saru bespreek tans ondernemings om die bodkoste te dra met sy bodvennote, sê hy.

Volgens Roux was dit ook broodnodig om die “eenmalige uitnodiging” aan te gryp om aan die Pro14-reeks deel te neem, “omdat die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap in sy geheel gretig is om speelkans tot deelname aan ʼn Noordelike Halfrond-reeks uit te brei”.

Hy sê bykomende geld is wel bekom om die Pro14-deelname moontlik te maak, maar Saru moes steeds sy hand diep in die sak steek.

Getal spelers en koste hersien

Luidens die verklaring was die SA Rugby-groep se inkomste R1,19 miljard in 2017 (R1,21 miljard in 2016) en die uitgawe R1,28 miljard (R1,25 miljard in 2016).

Nasionale spanne se koste het met 9,6% tot R177 miljoen afgeneem, veral vanweë verminderde prestasiebonusse en verlaagde vervoerkoste.

Roux sê die vooruitsigte vir 2018 en later lyk beter met ʼn wesenlike persentasie van die begrote inkomste vasgeknoop, en die aanvaarding van “konserwatiewe uitgawebeginsels”.

Die RWB in Japan en 2021 se toer van die Britse en Ierse Leeus sal Saru moet help skep.

Roux voorsien ook ʼn omvattende hersienning van die getal beroepspelers en hul gepaardgaande koste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Begin by die vraag hoekom is die paviljoene so leeg. Omdat sulke patetiese rugby opgedis word en n klomp spelers veral kwotas wat nie in die spanne behoort te speel. Gaan vra die regering wat julle so aanhang vir n geldjie

Eish ·

Mooi man, nou is jul in dieselfde liga as die landsadministrasie en in n uitgelese groep bankrot instansies se geselskap. Eskom, Prasa, SAL ensovoorts. Doet zoo voort.

Callie ·

As jy te ruggraatloos is om die waarheid in die oe te kyk gaan jy al verder agteruit boer. Stop kwotas en wen. Enigste resep vir sukses. Verloor, paviljoene is leeg en eenvoudige som, die geldkas is leeg. Julle kwota toeskouers kom nie kyk nie my ou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.