RWB vir Duitsland (met SA bloed) g’n vergesog

Michael Poppmeier word van die veld gehelp ná sy besering teen Roemenië. (Foto: DRV)

Michael Poppmeier word van die veld gehelp ná sy besering teen Roemenië. (Foto: DRV)

Dit raak `n wesentlike moontlikheid dat Duitsland, met sy talle Suid-Afrikaners in die span, ná Saterdag se skoksege oor Roemenië vir die Rugbywêreldbeker in 2019 in Japan in aanmerking kan kom.

Hy het twee kanse: of hy moet tweede in die Europese Kampioenskap kom (ná Georgië, wie se plek in die komende RWB-toernooi verseker is) deur minstens ook met Rusland, Spanje en België af te reken; of hy moet derde kom, en dan klaarspeel met wie ookal van Fidji, Tonga en Samoa laaste in die Stille Oseaan-drienasiesreeks kom.

Van dié twee lyk die eerste uitweg die maklikste as na die ranglysplekke van die spanne gekyk word. Rusland is 20ste, Spanje 21ste en België 26ste. Fidji is 10de, Tonga 13de en Samoa 15de.

Duitsland is ná sy skoksege oor Roemenië nou 22ste, sy beste posisie dusver op die lys.

Dit kan `n verbete driehoekstryd tussen Duitsland, Rusland en Spanje afgee.

Slegte nuus vir Duitsland is dat sy kaptein, Michael Poppmeier, `n gewese slot en kaptein van Valsbaai in die Westelike Provinsie, vir die res van die reeks buite aksie is nadat hy `n knie teen Roemenië beseer het.

Oor sy span se geskiedkundige oorwinning oor Roemenië die afgelope Saterdag in Offenbach (die eerste in oor die 70 jaar), sê Kobus Potgieter, die gewese Tukkie wat Duitsland afrig, die spelers het as span saamgeveg tot die einde toe.

“Ons het ons huiswerk gedoen en goed voorberei. Ek dink die spelers se selfvertroue en die goeie reserwebank was ook deurslaggewend.”

Hy meen egter die span het nog nie so goed gespeel as wat hy wil nie, en daar was steeds te veel foute.

Harde wedstryd

“[Teen Georgië Sondag] wil ons verbeter op ons vorige wedstryde deur beter by ons speelplan te hou, beter besluite te neem, en ons bal beter te behou.

“Ons weet dit gaan `n baie harde wedstryd wees.”

Potgieter sê Duitsland gaan met `n jong span Tbilisi toe, en toets `n paar nuwe kombinasies om te sien wat hulle kan vermag.
Die wedstryd Saterdag tussen Spanje en Roemenië in Iasi, Roemenië, maak seker die meeste belangstelling tussen die naweek se kragmetings gaande.

Spanje het ook verlede naweek verras deur met Rusland af te reken en kan groter selfvertroue as die gekneusde Eike aan die dag lê. Laasgenoemde sal op sy beurt allemins nóg `n nederlaag teen `n swakker geagte span op die lyf wil loop.

Rusland behoort sy wedstryd teen België in Brussel te wen, maar die Swarte Duiwels is nie bekend as `n span wat sommer gaan lê nie.

Op `n laer vlak sal Suid-Afrikaners ook belangstel in die uitslag van die wedstryd tussen Pole en Portugal, met die Pretoriase afrigter Blikkies Groenewald se betrokkenheid by eersgenoemde.

Op die oog af moet Portugal se Wolwe in Lissabon as die gunsteling beskou word om dié wedstryd in die reeks om die Rugby Europatrofee te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.